Verlede keer het ons vir Paulus en Barnabas tot by Listra gevolg. Dis hier waar hulle ‘n kreupele deur die krag van die Here genees het.

Eers wou die inwoners vir Paulus as Hermes en Barnabas as Zeus aanbid. Toe hulle die eer geweier het, was hulle gereed om die besoekers te stenig.

Handelinge 14:19,20 Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. 20 Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

Ek lees nie van een enkele geval van iemand wat steniging oorleef het nie.

Vers 20 Hy het opgestaan en weer die stad ingegaan.

In my geestesoog sien hoe Paulus opstaan en die Here dank dat Hy hom weer opgewek het. Hy waag dit om weer in die stad in te gaan.

Die feit dat Paulus na die steniging opgestaan en die stad binnegegaan het, was ‘n groter wonderwerk as die genesing van die man met die gebreklike voete.

‘n Jong man het die hele gebeurtenis waargeneem. Miskien ook sy ouma Loïs en sy ma Eunice.

Paulus sou tydens sy tweede sendingreis weer hier besoek en dan vir Timoteus saam met hom neem.

Die beproewings het hulle nader aan mekaar gebind. Is dit moontlik dat so ‘n hemelse vriendskap in bitterheid kon eindig?

Kom ons lees wat Dr. Lukas verder vir ons oor die eerste sendingreis vertel:

Handelinge 14:21 Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan.

Wat sou die rede wees waarom Paulus en Barnabas weer hierdie mense besoek het?
Vers 22 Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê.

Gaan jy op hierdie oomblik deur baie verdrukkings? Sukkel jy om te verstaan waarom mense so onredelik kan wees? Sukkel jy met iemand na aan jou wat jou nie mooi verstaan nie? Gaan dit sleg in jou kerk?

Onthou net wat Paulus en Barnabas hier vir die mense van Antiogië gepreek het:

“Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,”

Paulus en Barnabas was baie na aan mekaar. Hulle het een gemeenskaplike doel gehad en dit was om mense met God te versoen. Ek glo nie hulle het ooit gedroom dat hulle eendag deur verbittering van mekaar sou skei nie.

Verse 23-25 In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het. 24 Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan. 25 Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek.

DIE TWEEDE SENDINGREIS

Na afloop van die eerste sendingreis is Paulus en Barnabas terug na Jerusalem waar hulle die eerste groot kerkvergadering bygewoon het.

Wat is die eerste iets wat Barnabas gedoen het?

Hy het sy moedeloos neef Barnabas gaan opsoek en uitgevind het hoe dit met hom gaan.

Weet jy waarom hierdie man Barnabas genoem is?

Handelinge 4:36 gee vir ons die antwoord. “Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat.”

Hy het hom moed ingepraat. En hy doen dit so goed dat hy vir Markus oorreed om weer te probeer en die volgende sendingreis saam met hom en Paulus mee te maak.

Dr. Lukas gee vir ons die volgende beskrywing van hierdie besondere mens:

Handelinge 11:24 “Barnabas was ‘n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ‘n vaste geloof.”

Ons het meer mense soos Barnabas nodig.

PAULUS SE VOORSTEL

Die Orontosrivier vloei deur Antiogië. Miskien het hy en Barnabas op ‘n dag ‘n slaaitjie daar gaan eet.

Paulus gevoel die tyd is ryp dat hy en Barnabas moet gaan kyk hoe dit met hulle bekeerlinge gaan. Albei hier manne het ‘n groot passie vir siele gehad.

“Paulus, ek dink dis ‘n fantastiese idee. Ek wonder hoe dit met ons dierbare bekeerlinge gaan. Maar Paulus, daar is iets wat ek met jou wil bespreek. Dit gaan oor Markus.”

“Asseblief Barnabas, ek is nie snaaks nie, maar ek wil daardie ventjie nooit weer saam met my op ‘n sendingreis neem nie. Toe ons hom die nodigste gehad het, het hy uitgesak.

Baie taktvol vra Barnabas vir Paulus waarom hy so voel:

“Kyk Barnabas. In die werk van die Here is daar nie ruimte vir papbroeke nie. Jy doen die werk met jou hele hart of jy doen dit glad nie. Die Bybel sê hy wat sy hand aan die ploeg geslaan het en terugkyk, is my nie werd nie.”

Ek stap in hierdie historiese stad rond en ek dink aan die moontlike gesprek wat tussen hierdie twee manne plaasgevind het:

“Paulus. Verskoon my. Mag ek net hier inkom? Ek dink jy is ‘n bietjie onredelik. Toe ons in Jerusalem was het ek met Markus gepraat. Hy is baie jammer oor wat gebeur het en het beloof dit sal nooit weer gebeur nie. Hy het lank oor die saak gebid en groot lesse uit sy mislukking geleer.”

“Luister, Barnabas. Kom ek sê nou vir jou. Vir Markus vat ek nooit weer in my lewe op ‘n sendingreis nie. Dit maak nie saak wat se mooi beloftes hy aan jou gemaak het nie, ek het geen vertroue in Markus nie. Hy het ons eenkeer in die steek gelaat en watter waarborg het ons dat hy dit nie ‘n tweede keer sal doen nie.”

VERBITTERD

Elke keer wanneer ek Antiogië besoek, word ek baie hartseer.

Hoe meer hierdie twee manne oor Markus se goeie en slegte hoedanighede praat, hoe warmer word hulle. En hoe meer Barnabas daarop aandring dat Markus sy neef moet saamgaan, hoe vaster staan Paulus op sy besluit om hom nie weer saam te neem nie.

Handelinge 15:36-39 ’n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.” 37 Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. 38 Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie.

Ek staan by die Petruskerkie in Antiogië en ek wonder.

Hoe lank het hierdie twee godsmanne oor hierdie saak van Markus geredeneer? Ek weet nie. Maar Lukas, die skrywer van die boek Handelinge het die volgende paar woorde vir ons neergeskryf:

Handelinge 15:39 “Daar het toe ‘n verbittering ontstaan sodat hulle van mekaar geskei het.”

Wie was reg en wie was verkeerd?

Is Paulus reg as hy sê daar is geen plek vir iemand wat uitgesak het toe sy dienste baie nodig was nie?

Het Barnabas ‘n goeie saak gehad toe hy vir Markus weer ‘n kans wou gee?

Mag jy daarop aandring dat iemand wat gefaal ‘n tweede kans gegun moet word?

Dit was my voorreg om Tarsus te kon besoek waar Paulus gebore is. Soos ons almal foute maak, so het Paulus ook ‘n fout gemaak.

Wanneer mens die res van die geskiedenis van Markus lees, besef jy dat Paulus verkeerd was. Hy was nie bereid om iemand wat weer ‘n keer wou probeer ‘n tweede kans te gee nie.

Terwyl Paulus en Efese was het hy ‘n pragtige brief aan die gemeente in Korinte oor die liefde geskryf. Miskien het hy dit vir homself geskryf:

1 Korintiërs 13:5 “Handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie.”

Die tragiese konflik tussen Paulus en Barnabas het vir my baie groot lesse geleer.

As iemand jou teleurgestel en vir ‘n geleentheid vra om weer te probeer, moenie hom of haar weier nie.

As Paulus vir Markus weer ‘n kans gegee het, sou hy nooit verbitterd geword nie.

By Deir el Bahri, die graftempel van Hatsjepsut in Egipte dink ek. Haar pleegkind Moses het haar bitter teleurgestel en haar paleis verlaat.

Miskien is daar iemand wat jou teleurgestel het, bitter teleurgestel het. En dit mag wees dat daardie iemand vergifnis vra.

Wat gebeur as jy dit nie doen nie? Die gevaar is daar dat jy ook soos Paulus verbitterd mag raak.

DIE OPLOSSING VIR VERBITTERING

Dis ‘n baie groot opwinding om op die spore van Paulus te stap. Op pad vanaf Jerusalem na Seserea het die soldate Paulus na Antipatris geneem.

Wat was die oplossing vir Paulus se verbittering? Hy moes sy fout insien en vir Markus weer ‘n kans gee. Het hy dit gedoen?

Paulus het nogal taamlik baie tyd in tronke deurgebring. Sesereatronk was een van daarvan. Dit mag in hierdie tronk gewees het waar Paulus vir Barnabas geskryf het.

Bo aan die brief het hy die gevangenis se adres geskryf. Pontius Pilatus Gevangenis, Cesearea, Sel 13, Blok A.

Miskien het Paulus die branders van hierdie hawestad tot binne in sy sel gehoor. En nou skryf hy:

“Liewe ou Barrie. Vandat ek en jy daardie uitval oor Markus gehad het, het ek nog nie weer rus vir my siel gehad nie. Die Heilige Gees kla my dag en nag aan en ek wil die saak met jou regmaak.

Die bewaarder bring vir hom sy bord kos. Paulus stoot dit eenkant toe en skryf verder:

“Vergewe my vir die dinge wat ek daardie dag vir jou gesê het. Vergewe my dat ek so hard geskreeu het. Vergewe my vir die feit dat ek my misnoeë in Markus uitgespreek het. Ek vra om vergifnis vir die verbittering wat daar in my hart teenoor jou ontstaan het.

Ek stap hier by Seserea en my gedagtes gaan uit na Paulus. Ek weet nie of daar “tissues” in die tronk was nie. Maar as daar was, het Paulus nou na een gegryp terwyl hy sy brief aan Barnabas afsluit.

“Sê my, ou Barrie, sal jy my weer ‘n kans gee? Sal jy my vergewe? Baie liefde, jou ou swak sondige broer in Jesus, Paulus.”

NB. Het jy enige nuus van Markus. As jy weer van hom hoor sê vir hom oom Paulus stuur groete.

In die museum by Antalya kyk ek na ‘n musiekinstrument wat in Perge ontdek is. Dis die plek waar Markus uitgesak het. Nadat Paulus ‘n briefie van Barnabas gekry het, het daar weer musiek in sy hart begin speel.

Op ‘n dag het die bewaarder ook vir Paulus ‘n brief gebring. Raai van wie dit gekom het? Barnabas. Hoe dink u het hy geantwoord?

“Liewe Paulus, (Paulkie)

Baie dankie vir jou ou briefie. Ek het vreeslik gehuil toe ek hom gelees het. Ek kan nog nie glo dat so iets tussen ons moes gebeur het nie. Maar soos jy tereg in Romeine 8:27 geskryf het, alles werk ten goede mee vir diegene wat die Here liefhet. Paulus, ek vergewe jou van harte. En ek is jammer dat ek nie eerste vir jou geskryf het nie.

Die verbittering wat tussen ons twee ontstaan het, het my ook nagte uit die slaap gehou. Mag die Here gee dat so iets nooit weer met ons gebeur nie.
Baie groete, jou broer in Jesus, Barnabas. (Ou Barrie)

PAULUS EN MARKUS

Naby die Koliseum in Rome kan mens die Mamertimumtronk besoek. Dit is die plek waar Paulus opgesluit was net voordat hy onthoof is. En dis hier waar hy ‘n baie besondere brief geskryf het. Dit was ook sy heel laaste brief.

Ek lees vir u net ‘n kort uittrekseltjie:

2 Timoteus 4:11 “Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees.”

Dit was agtien jaar vantevore dat Paulus hier by Antiogië teenoor Barnabas verbitterd geraak en vir die jong Markus afgeskryf het.

En nou in die skaduwee van die dood neem hy sy pen en maak ‘n belydenis.

“Timoteus, jare gelede het ek vir Markus afgeskryf. Ek het ‘n fout gemaak. Markus kan vir my tot groot hulp wees. Sal jy hom nie asseblief vra om na my toe te kom nie.”

Ek wonder of Markus betyds by Paulus kon uitkom voordat hy onthoof is? Miskien tog. Ek kan my voorstel watter emosionele ontmoeting dit moes gewees het.

“Markus, my ou seun, oom Paulus is baie jammer dat ek jou daar by Antiogië afgeskryf het. Sal jy my vergewe? Ek glo die Here het nog ‘n groot werk vir jou.”

“Ag oom Paulus, ek voel vreeslik sleg dat iemand soos Oom Paulus vir ‘n snuiter soos ek om verskoning moet vra. Ek is net baie jammer dat ek by Perge in Pamfilië uitgesak het. Ek was daardie tyd sommer ‘n regte ou sussie. Vergewe my ook asb. oom Paulus.”

Miskien het die twee so ‘n paar sekondes lekker in mekaar se arms gehuil.

OPROEP

Dis baie moontlik dat iemand jou so teleurgestel het, en dat jy teenoor daardie iemand verbitterd geraak het, en hom of haar afgeskryf het.

In Paulus se geval was dit 18 jaar gelede, in jou geval was dit miskien langer gelede, of korter gelede.

Ek en jy sit ook in ‘n dodesel en die laksman kan ons enige oomblik kom haal. Miskien is daar iewers in ons verlede ‘n Markus wat ons afgeskryf het.

Wat dink jy van die idee dat ons vir Markus ‘n briefie of SMS, epos of ‘n telefoonoproepie gee?

Miskien wag jou Markus of my Markus al vir 18 jaar om van ons te hoor.

Maar hoe raak ‘n mens van bitterheid ontslae?

1 Korintiërs 13:5 Die liefde “handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie.” Die nuwe vertaling sê: “Hou nie boek van die kwaad nie.”

In die besigheidswêreld skryf hulle slegte skuld af. Kom ons skryf daardie emosionele slegte skuld af. En sodra dit gebeur, verdwyn die verbittering.

Onthou, God die Vader het jou slegte skuld afgeskryf. En dit was taamlik baie. So baie dat dit die dood van Sy Seun Jesus gekos het. Die skuld wat jy het om af te skryf is baie minder. Maar die verligting wat dit bring is heerlik. Die bitterheid van verbittering verdwyn en jy is vry en gelukkig