Wanneer mens die Bybel lees, kom jy op vreemde Assiriese plekname soos Kalag af. Nou wil ons weet. Praat die Bybel die waarheid?  As daar regtig so ‘n plek was, waar is dit en watter betekenis het dit vir jou en my?

Dan is daar weer ander plekname wat vir ons ‘n bietjie meer bekend klink soos bv. Assirië en Nineve. Waar presies is hierdie plekke? Kan ‘n mens daar gaan besoek?

Dan praat die Bybel ook van ‘n paar Assiriese konings soos: Tiglat-Pileser, Salmaneser, Sargon, Sanherib en Esarhaddon.  Ons wil weet:  was daar regtig sulke konings?  Kan ‘n mens die bewyse van hulle bestaan gaan opsoek?

DIE BYBEL IS WAAR

Dis met heilige trots dat ek net vir jou wil sê dat die Bybel waar is. In die volgende paar minute gaan ons die Assiriese stede en konings opsoek waarvan die Bybel praat.

Ek vertrou dat u geloof in die Bybel as die betroubaarste allesomvattende handleiding, sal toenmee.

ASSUR

Kom saam met my na ‘n ver plek in die noorde van Irak, langs die Tigris, met die naam van Assur.

Terwyl ons tussen die ruïnes rondstap, praat hulle met ons.  Hulle sê dat die stad in 2400 v.C. as ‘n militêre en handelspos van die Sumeriërs gedien het.

In die 19de en 18de eeu v.C. het die stad van Assur ‘n  baie groot wêreld-handelsenstrum geword. In 1813 v.C. het koning Sjamsi-Adad I die stad ‘n deel van die Assiriese ryk gemaak.

In die 14de eeu v.C. het Assirië nog magtiger geword.Dis toe wat koning Asjur-ubalit (1363-1328 v.C.) besluit om Assur die hoofstad van die Assiriese ryk te maak.

DIE GODSIENS VAN DIE ASSIRIëRS

Ons  kyk hier na ‘n tempeltoring wat baie eeue gelede hier gepryk het.  Hy is opgerig ter ere van die Assiriese god wat toevallig ook Assur genoem is.

Dit was my voorreg om binne-in te stap en aan die manier te dink waarop hierdie mense aabid het.  Die god Assur wat hulle aanbid het, het glo nie hier gewoon nie.

Miskien het sy bors in hierdie donker nou kamer toegestrek en toe het hy sy tuiste in die Himrin gebergtes gemaak.

Dit was vir my ‘n baie groot oomblik toe ek die tempel van Anu en Adad besoek het.  Elke keer voordat ‘n Assiriese koning gaan oorlog maak het, het hy eers hierheen gekom.

In hierdie einste tempel het hy deur middel van die priesters die Assiriese god van oorlog, Assur, se toestemming gevra of hy maar kan oorlog maak.

Wil jy raai wat Assur se antwoord was? Onthou.  Hy het van aksie gehou. Elke keer het Assur gesê:  “Laat waai.”

Die geskiedenis sê vir ons dat die Assiriërs die wreedste van al die antieke beskawings was.  Jy skrik wanneer jy lees wat hulle alles met hulle gevangenisse gemaak het.

ASJURNASIRPAL II (883-859 v.C.)

Die laaste Assiriese koning wat hier by Assur geregeer het,      se naam was Asjurnasirpal II. Hy het die tradisionele hoofstad verlaat en na ‘n plek met die naam van Nimrut verhuis.

Ek was baie opgewonde toe ek vir die eerste keer hier besoek    het. Weet u waarom?  Want die Bybel praat van hierdie Assiriese stad.

Genesis 10:8-11 Uit Kus het Nimrod gekom, die eerste maghebber op die aarde.  Hy was ‘n dapper jagter, ook in die oë van die Here.  Daarom word daar gesê:  “’n Dapper jagter in die oë van die Here, soos Nimrod.”  Nimrod se koninkryk het begin by Babel, Erek, Akkad en Kalne, almal in Sinar.  Van hier af het hy na Assirië toe gegaan en Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou.

Die teks wat ons sopas gelees het, sê vir ons dat Assirië en Kalag sy ontstaan aan die magsuitbreiding van Babilon te danke het.

Terwyl ek tussen die ruïnes van Nimrud, Bybelse Kalag rondgestap het, het ek aan ‘n fees gedink wat hy na voltooing van sy palies gegee het.

Daar was 69,574 feesgangers.  2,200 osse is vir hulle geslag.  En as jy van ‘n skaapribbetjie gehou het, koning Asjurnasirpal II het 16,000 skape geslag.
Vir sy onderdane wat nie Coke gedrink het nie, het hy gesorg dat daar 10,000 leersakke wyn en 10,000 vaatjies bier was.

Kan jy aan ‘n ander soortgelyke fees dink waarvan die Bybel praat?  Ons lees daarvan in Daniël 5 toe koning Belsasar ‘n duisend maghebbers in sy banketsaal onthaal het.

Wanneer ek hierdie antieke plekke besoek, word ek altyd met die betroubaarheid van die Bybelse verhaal beïndruk.

SALMANESER III (859-824 v.C.)

Na die dood van Asjurnasirpal II het sy seun Salmaneser III hier by Kalag regeer.  Argeoloë het iets opwindends omtrent hom ontdek.

Hy vertel op een van sy oorwinningstelas hoe hy in 853 v.C. teen ‘n 12 nasie koalisie geveg het.  En raai wat?  Agab, die koning van Samaria, was die magtigste van die 12.

Maar wat van nog groter belang is, en wat die Bybelwaarheid nog meer bevestig, is die ontdekking van Salmaneser III se swart obelisk.

Henry Layard het hierdie waardevolle fonds in 1845 ontdek.  ‘n Mens sien ons hoe Jehu, ‘n koning van Israel belasting aan Salmaneser betaal.

Terwyl ek vir die eerste keer na hierdie inligting in die Britse museum gekyk het, het my bewondering vir die Bybelse verhaal net hoër en hoër gestyg.

ADAD-NIRARI III  (810-782 v.C.)

Die geskiedenis sê vir ons dat daar gedurende die regering van Adad-Nirari III iets eienaardigs gebeur het.   Vir die eerste keer lees ons dat daar ‘n moratorium op militêre veldslae geplaas word.

Maar dis nie al nie.  Daar vind ‘n godsdienstige revolusie in Assirië plaas.  Pleks dat ‘n klomp Assiriese gode aanbid word, ons noem dit poloteïsme, word daar nou net een god aanbid.  Ons noem dit monoteïsme.

Waaraan kan hierdie skielike bekering toegeskryf word?  Die Assiriese annale vertel dit nie vir ons nie. Hierdie inligting kry ons net in die Bybel.

Jona 3:4-6 Jona het die stad ingegaan en ‘n dag lank daar rondgestap en toe roep hy:  “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes.”  Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ‘n dag aangekondig om te vas.  Groot en klein het rouklere aangetrek.  Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom.  Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ‘n ashoop gaan sit.”

Terwyl ek in hierdie verre Bybellande oor die antieke konings navorsing doen, dank ek die Here vir Sy onbegryplike genade vir die mensdom.  Luister net wat Hy gedoen het toe die koning en sy onderdane berou gekry het:

Jona 3:10 Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring.  Hy het nie die ramp gestuur nie.

By die Anu- en Adadtempel by Assur het ek diep gedink.  Adad-Nirari III het nie na die stem van die oorloggod Assur geluister nie.  Hy het na die stem van die God van vrede geluister.

Die wêreld het tans ‘n baie groot behoefte, nie aan bakleiers nie, maar aan vredemakers.

TIGLAT-PILESER III  (745-727 v.C.)

Die volgende Assiriese koning se naam was Tiglat-Pileser III.  Ongelukkig het hy nie die godsdienstige hervorming van sy voorganger, Adad-Nirari III voortgesit nie.

Op die muurprente sien ons maar weer hoe wreed die Assiriërs  hulle gevangenisse mishandel.  Kom ons hoor wat die Bybel van hom sê en dan kyk ons of die argeologie dit bevestig:

2 Konings 15:29 Tydens die regering van koning Peka van Israel het koning Tiglat-Pileser van Assirië die land ingeval.  Hy het Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes, Hasor, Gelead en Galilea, die hele land Naftali, ingeneem en die inwoners het hy na Assirië toe weggevoer.

By Hasor in die noorde van Galilea kry ‘n mens die bewyse van hierdie Assiriese inval en die wegvoer van die Israeliete. 732 vC.

Maar hier by Nimrud kry mens nog meer bewyse van dit wat die Bybel vir ons aangaande Tiglat-Pileser III se inval van Israel sê. Hoor wat sê hy:

“The whole of Naftali I took for Assyria.  I put my officials over them as governors.  The land of Bet-Omi (the house of Omri) all its people and their possessions I took away to Assyria.”  Tiglat-Pileser Inscription.

SALMANESER V  (727-722 v.C.)

Ek stap op die ruïnes van Samaria.  Dis hier waar Agab en baie ander konings van Israel geregeer het.

Profeet na profeet het hulle kom waarsku om met hulle sondes te breek.  Hulle moes ophou om hulle kinders aan Molog te offer; ophou om hulle medemens se lewe te verwoes.  Hulle moes die genadig God van Israel kom aanbid.

Dis hartseer om hier te stap en aan die tragiese gevolge van ongehoorsaamheid te dink.  Hosea, die 20ste en laaste koning van Israel, Hosea, het hier in die ivoorpaleis van Agab gewoon.

Die Assiriese annale sê vir ons dat Samaria al hoe meer opstandig geword het. En dis presies wat die Bybel ook vir ons sê.  Kom ons lees dit terwyl ons na Samaria kyk:

2 Konings 17:4,5  Die koning van Assirië het uitgevind dat    Hosea teen hom saamsweer deurdat hy gesante na koning so van Egipte gestuur het en nie die jaarlikse belasting aan die koning van Assirië betaal het nie.  Daarom het hy vir Hosea laat vang en hom in die tronk opgesluit, die hele land binnegeval en opgeruk na Samaria toe wat hy drie jaar lank beleër het.

2 Konings 18:9 sê hierdie koning se naam was Salmaneser.  Die Assiriese annale sê hy was Salmaneser V.  Die geskiedenis sê dat Samaria in die jaar 722 v.C. geval het.

Terwyl ek na hierdie antieke Israelitiese muur kyk, dink ek aan magtige profete soos Elia en Elisa.  Hulle het met Israel gepleit om met hulle sondes te breek, maar dit was alles tevergeets.

Luister wat toe gebeur het:

2 Konings 17:23 Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy hulle deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het.  Hy het Israel uit sy land na Assirië toe laat wegvoer, waar hulle vandag nog is.

Terwyl ek hier by Nimrud staan, wonder ek hoeveel duisende Israeliete hier begrawe is. Moedswillige sonde neem ons in ballingskap en dan sterf ons in ‘n vreemde land.

SARGON II

Die geskiedenis sê vir ons dat Salmaneser V het in 722 v.C. hier iewers in Samaria tydens die beleëring gesterf het.  Hy is deur Sargon II opgevolg.

Dis hy wat die tien stamme permanent in ballingskap geneem het.  Vir baie eeue het die geleerdes gedink die Bybel maak ‘n fout met die naam van hierdie koning want hulle kon nêrens op sy naam afkom nie.

Die enigste plek waar sy naam gevind word, is in Jesaja.  Kom ons lees dit:

Jesaja 20:1 Op ‘n keer het Sargon van Assirië die hoof van sy leër na die Filistynse stad Asdod toe gestuur.  Hy het teen die stad oorlog gemaak en dit verower.

Kom saam met my na ‘n verlate argeologiese plek in die verre noorde van Irak.  Tans word dit Korsabad genoem.

In antieke tye was hierdie plek Dur Sharrukin of Sargonsburg genoem.  Sargon II het besluit om nie langer in Nimrut te woon nie, maar om vir hom hierdie nuwe hoofstad te gaan bou.

‘n Fransman met die naam van Emile Botta het 1843 hier begin opgrawings doen en op ‘n asemrowende mooi Assiriese paleis afgekom.

Toe hulle die spykerskrif begin ontleed, ontdek hulle dis die paleis van Sargon II.  Weereens is die Bybel as waar en betroubaar bevestig.

Daar is nie veel wat die besoeker aan Korsabad kan sien nie.  Die meeste fondse kan tans in die Bagdad- of Louvremuseum in Parys gesien word.

Hierdie stukkie kunswerk bevestig die tragiese Bybelwaarheid dat die tien stamme in ballingskap geneem is.  Sargon II se soldate neem ‘n inwoner van Samaria as balling na Assirië.

Ons is terug op Samaria.  Die Bybel sê vir ons in 1 Konings 22:39 dat Agab vir hom ‘n huis gebou het met ivoorinlegwerk.  Kan die argeologie hierdie stelling bevestig?  Baie beslis.

Hier sien u ‘n stukkie ivoorkuns wat die Assiriërs uit Samaria na hulle land gebring het.  Vir byna 3000 jaar het dit onder die sand gelê en wag om ontdek te word.

Die Here doen so baie goeie dinge vir ons om ons daaraan te herinner dat Hy werklik bestaan en vir ons omgee.  Het u dit al agtergekom?

SANHERIB (705-681 V.c.)

Sargon II se vrou en kinders het vir hom hier in Dur Sharrukin  gewag om huis toe te kom.  Maar soos baie ander regeerders van die antieke tye het hy iewers op ‘n verlate slagveld gesneuwel.

Sy seun Sanherib het besluit om Dur Sharrakin te verlaat en die Assiriese ryk vanaf sy nuwe hoofstad, Nineve, te regeer.

Hy was ‘n briljante bouer en uitvinder van nuwe oorlogsmasjienerie.  En wanneer ‘n man mag en geld het, wil hy homself net meer en meer bewys.

Die eerste stad wat hy met die grond gelykmaak, was Babilon.  Dit was ‘n groot kultuurramp.  Alles wat van waarde was het hy vernietig.

By Assur het hy sy god gaan raadpleek om te hoor of hy ook Jerusalem kan gaan verower.  Die antwoord was ja.

Voordat Sanherib Jerusalem sou verwoes, het hy eers die vestingstad Lagis verwoes.  Dit was my voorreg om hier te kon besoek.

Terwyl argeoloë opgrawings in sy paleis by Nineve gedoen het, het hulle op ‘n waardevolle vonds afgekom.  Dit was ‘n voorstelling van hoe hy Lagis verower het.

Die Assiriërs het die Judeërs binne in die stad met klippe doodgegooi het.  Hulle was baie akkuraat.

Mens sien ons hoe een van Sanherib se pantservoertuie teen die skuinste uitgestoot word.  Die stormramme het aanhoudend teen die muur gestamp.

Wanneer ‘n mens na die skuinste van die beleëringswal by Lagis kyk, kan jy die ooreenkoms in die kunswerk van die Assiriërs sien.

JERUSALEM

In Jerusalem het ‘n benoude koning Hiskia van die suksesse van Sanherib gehoor.  Later moes hy verneem dat hierdie wrede koning op pad was om sy stad te kom inneem.

2 Konings 19:9-11 Daar het die koning van Assirië berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val.  Die koning van Assirië stuur toe weer gesante na Hiskia toe met die boodskap:  “Sê vir koning Hiskia van Juda:  Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie.  Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het.  Sal jy dan vrykom?”

Wat sou jy gedoen het as jy so ‘n dreigement van die magtige Assiriese bul ontvang het?  Behalwe vir die feit dat hy baie ernstig tot die Here gebid het, het hy ook aan die werk gespring.

Ons lees in 2 Konings 20:20 en 2 Kronieke 32:30 dat Hiskia ‘n tonnel gegrawe het.  Deur dit te doen het hy die water vanaf die Gihonfontein tot by die bad van Siloam gelei – 533 meters.

Sodoende het hy al die waterbronne buite die stad van die Assiriërs afgesny.  Elke keer wanneer ek halflyf deur die Siloamtonnel se water stap, dink ek aan die briljante stuk inginieursvernuf van die mense van daardie tyd.

In 1880 is ‘n seslyn inskripsie, so ongeveer ses meter vanaf die bad Siloam in die tonnel gevind. Dit was vir my ‘n baie groot oomblik toe ek voor hierdie steen in die Istanbulse museum gestaan het.

Dit vertel hoe die twee spanne tonnelgrawers nader en nader aan mekaar beweeg het totdat hulle mekaar se pikhoue kon hoor.

Terwyl Hiskia met hierdie voorbereidings besig was, het die profeet Jesaja vir hom die volgende bemoedigende boodskap gebring:

2 Kronieke 32:7,8 Wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie, moenie skrik vir die koning van Assirië en die menigtes by hom nie.  By hom is menslike mag, by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg.

Herodotus verwys na ‘n ontsettende muisplaag wat die Assiriese leer getref ter terwyl hulle Jerusalem omsingel het.  Die Bybel sê egter dat was die engel van die Here wat 185,000 Assiriese soldate doodgemaak het.

ESSARHADDON (681-669 v.C.)

Wat sê die Assiriese annale en wat sê die bybel vir ons aangaande die volgende heerser van Nineve?  Kom ons lees eers wat die Bybel sê:

Jesaja 37:38  Terwyl hy op ‘n dag in die tempel van sy god Nisrog aanbid het, het sy seuns Adammelek en Sareser hom met swaarde doodgesteek.  Hulle het toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.

3k is na die verre noorde van Irak waar ek die  bewyse  van Esarhaddon se bestaan gaan opsoek het en dit gevind het.

In 1990 het ‘n stootskraper langs Nebi Yunus, Jona se graf, op ‘n bul met ‘n mens kop afgekom.  Dit was die tempel van Esarhaddon.  Wat ‘n fonds.

Argeoloë het hierdie interessante standbeeld ontdek.  Dit vertel van Esarhaddon presies wat ons on Jesaja 37:38 gelees het, nl. dat sy twee broers sy pa vermoor het en dat hy met hulle afgereken het en toe die volgende koning geword het.

BYBELPROFESIE WORD BEWAARHEID

Terwyl ek na sommige van die vervalle mure en poorte van Nineve gekyk het, het ek aan die betroubaarheid van die Bybelse voorspellings gedink.

Nahum 1:14 Maar oor jou, Nineve, beveel die Here:  “Jou naam sal nie meer genoem word nie!”  Ek vernietig die beelde in jou tempels, Ek grawe jou graf, want dit is klaar met jou.

Die verlatenheid wat mens hier sien, laat jou aan Nahum 2:7 dink: Dit staan vas: Nineve word ontvolk, sy inwoners word weggevoer, sy slavinne kla soos duiwe wat koer en slaan hulleself op die bors.

Nabopolasser en sy seun Nebukadneser het Babilon  met ‘n formidabele leer verlaat en na Nineve opgeruk.  Die profesie aangaande hierdie eens magtige nasie is in 612 v.C. vervul, toe Nineve verwoes is.

‘n Paar jaar na hierdie verwoesting het die woestynsand oor die stad gewaai en mense het van Nineve vergeet.  Wat ‘n vervulling van profesie.
Die wreedhede wat die Assiriërs die omliggende nasies laat smaak het, het die Babiloniërs hulle nou laat proe.

Nahum 3:6 Jy is verwoes, en jy sal nie herstel nie, jou wond is dodelik; almal wat die tyding oor jou verneem, klap hande daaroor, want wie het nie almal voortdurend onder jou wreedhede gely nie?

Al wat mens kry wanneer jy die eens magtige stede van antieke Assirië besoek, is verlatenheid op verlatenheid.

Hier waar vrolike stemme geklink het, waar verliefdes getrou het en waar kinders grootgemaak is, is daar niks.

Terwyl ek hier gestap het, het ek aan die pragtige belofte in die boek Openbaring gedink.  Dit praat van ‘n stad van geluk waar die Here graag wil hê dat elkeen van ons moet wees.

Openbaring 21:1-4 Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien.  Die eerst hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.  En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom.  Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.  Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê:  “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.  Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.  Hy sal al die trane van hulle oë afdroog.  Die dood sal daar nie meer wees nie.  Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.  Die dinge van vroeër het verbygegaan.”