MOSES EN DIE FARAO VAN DIE EKSODUS

1. In ons vorige lesing het ons op die spoor van Moses in die Sinaiwoestyn gaan stap. Ons het vasgestel dat die liefde van die Here nie sommer ‘n verloorder afskryf nie.

2. Hier in die onherbergsame Sinaiwoestyn het die Here vir Moses met Sy optelliefde bygekom. En dis hier waar die Here 40 jaar nadat Moses uit Egipte gevlug het, vir hom opdrag gegee het om terug te gaan en Israel te verlos.

3. Veertig jaar vantevore was Moses reg vir die taak, maar nou het hy nie meer kans gesien nie. En dis die soort mens wat die Here kan gebruik. Iemand wat nie op sy eie krag vir sukses staatmaak nie, maar uitsluitlik net op die Here se krag.

4. Terwyl u na die Santa Katarina klooster by die berg Sinai kyk, lees ek vir u hoe Moses gereageer het toe die Here hom beveel om Sy volk te gaan verlos:

5. Eksodus 3:11,12 Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei? En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.

6. Die Here is ‘n God van Sy woord. Hy het die nederige Moses gebruik om die grootste wonderwerk van alle tye te vermag. Deur God se leiding het hy twee miljoen Israelitiese slawe uit die magtige Egipte land gelei.

7. Uiteindelik het hy die volk tot by die berg Sinai gelei. Dit was hier waar God self die tien gebooie met goddelike majesteit en heerlikheid afgekondig het en toe Sy heilige onveranderlike wet met Sy eie vinger op twee kliptafels geskryf het.

8. Eksodus 19:16 Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ‘n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk helder klank van ‘n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. ‘n Mens wonder hoe vêr hierdie geweldige harde donderslae gehoor kon word? Hoe het die Egiptenare gereageer toe hierdie berig by hulle uitgekom het? Hoe vêr kon hierdie weerligstrale gesien word? Het dit die Egiptiese spioene wat Israel op ‘n afstand gevolg het geraak? Ek glo hierdie inligting het die paleis van die farao bereik.

9. Eksodus 19:18,19 Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

10. Terwyl ek die Sinaiwoestyn besoek het, het ek gewonder vir hoeveel kilometers vêr die mense hierdie goddelike manifestasie kon sien. Die teks sê dat God in ‘n vuur na die berg afgetrek het. Vir kilometers hoog kon mense hierdie verblindende vuur uit die hemel sien neerdaal.

11. Nie net Egipte nie, maar ook die res van die antieke beskawings moes van die gebeurtenis kennis neem toe God Sy wet aan Sy volk Israel afgekondig het.

12. Terwyl ek hierdie omgewing besoek het, het ek aan ‘n teks in Hebreërs 12:21 gedink: So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “ek sidder van angs!”

13. Die God van Israel was besig om vir die Egiptenare te vertel dat Hy hulle gode vêr oortref. Hy was besig om hulle te oortuig dat Hy ‘n God was wat op wonderbaarlike maniere kon red. Wat was die gevolg hiervan? Van die Egiptenare het met afgodery begin breek, en monoteïste begin word. Ons gaan dit meer en meer ontdek terwyl ons dieper in die geskiedenis inbeweeg.

14. In ons vorige lesing het ons meer aangaande Hatsjepsut se godsdienstige oortuigings geleer. Sy het die titel “Vrou van god” verwerp, net soos die monoteïstiese koningin Tiye en koningin Nefertiti na haar tyd.

15. Die argeologiese bewyse dat Moses sy pleegmoeder Hatsjepsut haar tot monoteïsme, die Hebreeuse godsdiens bekeer het, word al hoe sterker. Eendag in die hemel sal ons die hele verhaal hoor en al die feite duidelik kan bestudeer.

DIE EGIPTIESE TONEEL TERWYL MOSES IN DIE WOESTYN WAS

16. Dit sal goed wees as ons vir ‘n oomblikkie na die politieke situasie in Egipte kyk terwyl Moses in Sinai was. Ons wil weet wat met die kinders van Israel na die dood van Hatsjepsut gebeur het. Ons wil ook meer aangaande die volgende farao weet.

17. Eksodus 2:23 sê: “En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe.(‘n Verwysing na Hatsjepsut se dood in 1482 vC.) Wat dink u sou met die Israel na haar dood gebeur? Dink u Tutmosis III sou sy verdrukking van die Hebreërs verskerp? Ja.

18. Die tweede gedeelte van Eksodus 2:23 sê: En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë slawerny…” Wil u hom sien?

19. Hier is hy. Nadat Tutmosis III in die jaar 1482 vC vir Hatsjepsut en haar hele kabinet uitgemoor het, het hy ‘n verdere 32 jaar tot 1450 vC. geregeer. Sommige historici noem hom die Napoleon van Egipte.

20. ‘n Mens lees van hierdie magtige farao se prestasies by sy feessaal in Karnak. Hy spog hier met sy 17 suksesvolle militêre veldslae tydens sy heerskappy.

21. Argeoloë het onlangs hierdie geskonde stela ontdek. Dit verwys na die 35ste jaar van Tutmosis III se regering. Sy sukses op die slagveld het hom net wreder en wreder teenoor die Hebreuse volk gemaak. Dink u die Here het dit raakgesien? Beslis. Sou Hy iets daaromtrent doen? Baie beslis.

21. Eksodus 2:24,25 God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.

22. Terwyl u na die berg Sinai kyk, lees ek vir u die boodskap wat die Here vir Moses iewers in hierdie omgewing gegee het:

23. Eksodus 3:9,10 “Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

24. Miskien gaan dit op hierdie oomblik so swaar met jou dat jy voel of die Here nie vir jou omgee nie. Gelukkig leer die geskiedenis van Israel ons dat die Here van ons pyn weet en dat Hy ons uiteindelik sal Hy ons verlos.

AMENHOTEP II EN TUTMOSIS III

25. Ons staan hier by die grafkelder van Amenhotep II. In die jaar 1453 vC maak sy pa Tutmosis III hom ‘n regent, maw ‘n mede-regeerder. In 1450 is hy alleenheerser. Hoekom? Wat het van sy pa geword?

27. Hier in die allerheiligste gedeelte van die tempel het die priesters hom as mede-farao ingesweer. Kort hierna het Amenhotep II ‘n opstand teen Egiptiese oorheersing in Siro Palestina gaan onderdruk.

28. Terwyl ek sy grafkelder in die vallei van die konings besoek het, het ek aan die akkurate tydsberekening van die Here gedink. Dit was gedurende die afwesigheid van Amenhotep II dat die Here Sy volk verlos het. Meer daaroor wanneer ons na die Bybelse kronologie van 1 Konings 6:1 kyk en ontdek dat dit in 1450 vC. plaasgevind het.

29. Die kennisgewing by sy grafkelder sê dat hy die alleen-farao in 1450 vC. geword het. En om nog meer presies te wees, noem ek net vir u dat dit in Junie van daardie jaar plaasgevind.

30. Kan die Bybel vir ons sê op watter plek in Egipte Moses die Farao ontmoet het toe hy Israel kom verlos het? Was dit by Karnak waar sy pragtige paleis gestaan het, of was dit iewers anders?

31. Psalms 78:12 sê: “Voor die oë van hulle voorvaders het Hy wonders gedoen in Egipte, in die veld by Soan.” Soan is ‘n ander naam vir Tanis.

32. Met sy baie militêre ekspedisies het Tutmosis III vir hom voorraadstede in die Nyldelta laat bou. Dis vanaf hierdie gebied dat hy sy Egiptiese troepe na die Midde Ooste gelei het.

33. Die plek wat ons besoek se naam is Tanis soos u sien. ‘n Mens lees hierdie heilsgeskiedenis in die Bybel. Maar wanneer mens die plekke besoek, maak dit ‘n baie dieper indruk op jou. Die Bybel word vir jou ‘n groter werklikheid.

DIE TIEN PLAE

34. Nadat Moses in die jaar 1490 vC ‘n Egiptenaar doodgeslaan het, moes hy vlug want Tutmosis III wou hom doodmaak. Veertig jaar later in 1450 vC. kyk hierdie twee mense mekaar vir die eerste keer weer in die oë.

35. Die dag toe ek by sy grafkelder gestaan het, het ek aan die woorde van Eksodus 5:1 gedink “So spreek die Here, die God van Israel: Laat my volk trek dat hulle vir My ‘n fees kan hou in die woestyn.”

36. U kyk hier na sommige van die gode wat eeue gelede in sy grafkelder geskilder is. Hoe dink u het Tutmosis III op die Here se opdrag gereageer om Sy volk te laat trek? Kom ons lees dit:

37. Eksodus 5:2 Maar Farao antwoord: “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.”

38. Hier sien u ‘n stuk beeldhouwerk van Tutmosis III. Wat is jou opinie van hierdie verwaande farao? Terwyl ek sy geskiedenis in die lig van die argeologie en die Bybel bestudeer het, het ek op ‘n merkwaardige ontdekking afgekom:

39. Die Here het hom net so lief gehad as die getrouste Israeliet. Net soos wat die Here Sy volk van fisiese slawerny wou verlos, net so wou die Here Tutmosis III van die slawerny van hoogmoed verlos. Philip Yancey skryf in sy boek: What is so amazing about Grace, die volgende woorde: “Grace is not…about fairness.”

40. In die eerste plaag wat op die Egiptenare val, probeer die Here vir die farao oortuig dat Sy almag die Egiptiese gode ver oortref. Die Nyl verander in bloed. Hierdie Egiptiese god Hapi of Uru soos hulle hom ook genoem het moes hulle beskerm maar nou verander hy ewe skielik in bloed. Wat ‘n teleurstelling.

41. Wanneer mens die Nylrivier besoek, dink jy diep. Deur hierdie eerste plaag het die Here vir die Egiptenare probeer vertel dat Hy nie ‘n God van veranderinge is nie. Hy is iemand op wie jy kan staatmaak en wat jou nooit teleurstel nie.

42. Dit klink vir ons miskien belaglik, maar hulle het selfs paddas aanbid. Wat ‘n teleurstelling toe die paddas van die tweede plaag hulle begin teister het.

43. Die Here wou vir hulle wys hoe baie ver Hy bo hierdie Egiptiese gode verhewe was. Hy het hulle genooi om Hom te kom aanbid. Ongelukkig het hulle hulle harte verhard en geweier om Hom as Skepper van hemel en aarde te aanbid.

44. Die Egiptenare het Hathor die koei aanbid. En toe kom die vyfde plaag en hierdie diere vrek op ‘n streep. En die Here probeer weer vir hulle vertel om nie hulle vertroue op sulke nietige afgode te plaas nie.

45. Ons kyk hier na die baie gode wat Amenhotep II aanbid het. ‘n God van liefde was besig om die Egiptenare op die belaglikheid van politeïsme, die aanbidding van baie gode, te wys. Deur die plae het Hy hulle geroep om net vir Hom, die onsienlike Skepper-God te aanbid.

46. Ongelukkig het Tutmosis III en sy amptenare die oomblik van genade versmaai en die vreeslike gevolge daarvan gemaai. Die plae wat hulle tot bekering moes bring, het ongelukkig hulle harte verhard.

47. Ek glo uit die diepte van my hart dat daar tog eerlike Egiptenare was wat besluit het dat die God van die Hebreërs die enigste waaragtige God was. Jesaja 55:10 sê dat die Woord van die Here nie ledig terug keer nie. Eendag in die hemel gaan ons van hierdie mense ontmoet en met hulle gesels.

DIE PASGA

48. Wanneer mens die profesieë van die Bybel lees, kom jy agter dat God baie waarde aan definitiewe datums heg. By die eksodus kry ons ook definitiewe datums.

49. Moses kry instruksies om die Paasfees op die 14de van die maand Abib te vier. Later het hulle Abid Nissan genoem. Volgens ons almanak was dit die 14de Maart. Drie dae later trek hulle deur die rooi see.

50. Terwyl ek hier tussen Tanis se ruïnes rondstap, dink ek aan iets wonderbaariks wat hier plaasgevind het. Iets wat die Egiptenare baie beslis nie kon miskyk nie.

51. Eksodus 13:21,22 Die Here het bedags met ‘n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met ‘n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nog kon trek. Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly.

52. Ons weet nie wie die Egitenare was wat destyds hier gewoon het nie, maar hulle het een spesifieke middernag iets gesien wat hulle nog nooit van te vore gesien het.

53. Die God van Israel verrys in ‘n onbeskryflike glorie in ‘n vuurkolom bokant Sy twee miljoen Israelitiese slawe. Stadig beweeg die lig na die rooi see se kant toe. Terwyl Egipte ween oor die dood van hulle eersborenes, juig die Israeliete omdat die Here hulle verlos het.

54. Ek wonder hoe vêr die lig van die vuurkolom gesien kon word? Tot by die ander voorraadstede van farao? tot by Gisa? Die Bybel sê sommige het besluit om saam met die Israeliete te trek omdat hulle hierdie wonderwerkende God aanvaar het. Kom ons lees dit:

55. Eksodus 12:38 “Daar het ook ‘n menige mense van ander afkoms saam gegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste.” Ander van hulle het eers later besluit om die God van Israel te aanbid.

DIE DATUM VAN DIE UITTOG

56. Wanneer mens by die profesieë van die Bybel kom, ontdek jy dat die Here pynlik akkuraat is. In ‘n later lesing wanneer ons die Persiese beskawing gaan navors, gaan ons sien hoe die koms van die komende Messias tot op die presiese datum voorspel is.

Maar nou wil ons weet wanneer die uittog uit Egipte plaasgevind het. Kom ons lees:
57. 1 Konings 6:1 Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand. (970 vC.)
58. Die briljante Assirioloog, Dr. William Shea plaas hierdie datum op 970 vc. Wanneer jy die 480 jaar bytel, kom jy op 1450 vC.

59. Vanaf die begin was die pasga op die 14de van die maand Abib gevier. Die Later het naam na Nisan verander en dit stem met ons Maart ooreen. Die wolk- en vuurkolom begin vir Israel te lei en vier dae later, op 17 Maart 1450 vC. trek hulle deur die rooi see. Ek wil net vir u noem dat die Bybel pynlik akkuraat is. Kom ons lees aangaande hierdie grootse gebeurtenis:

60. Eksodus 14:19,20 Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie.

61. Wat ‘n skouspel. ‘n Mens wonders hoeveel meters hoog hierdie wolk- en vuurkolom was. Die Egiptenare sien hoe hierdie glansryke volk ‘n skeiding tussen hulle en Israel maak.

62. Vers 21,22 Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ‘n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos ‘n muur gestaan.

63. Wat sou jy gemaak het as jy ‘n Egiptenaar was? Besef het dat die God van Israel groter as jou klomp gode was en teruggaan het huistoe? Kom ons hoor wat sê die Bybel wat hulle gedoen het:
64. Verse 23,24 Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in. In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai.

65. Ek dink die Here het hierdie klomp domastrante Egiptenare baie jammer gekry. Omdat hulle die magtigste nasie op aarde was het hulle gedink hulle kan elke soort oorlog onder die son wen.
Kom ons hoor wat die Here toe met hulle gedoen het:

66. Verse 25 Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg. Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.”

67. U kyk hier na ‘n voorbeeld van ‘n Egiptiese strydwa. Dis met hierdie soort oorlogstuig dat hulle baie veldslae gewen het. Maar nou gebeur daar iets baie snaaks. Die betroubare strydwaens se wiele begin afval.

68. Vers 26,27 Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.” Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur.

69. Wil u raai hoeveel Egiptiese soldate hierdie ramp oorleef het? Die Bybel sê nie een van hulle nie. Saam met sy manskappe het die dapper Tutmosis III ook verdrink. Die magtige farao, die Napoleon van Egiptiese geskiedenis het iewers saam met sy manskappe op die oewers van die rooi see uitgespoel.
70. Indien daar destyds ‘n koerant was, sou Egipte en die hele
wêreld daarvan geweet het. Maar die Egiptenare het ‘n beleid gevolg waar hulle geen ramp en verlies gepubliseer het nie. Jy kan al die hiërogliewe lees maar jy sal niks vind nie.

71. Die enigste argeologiese bevestiging van die uittog uit Egipte sal ons by die dood van een van die farao’s moet gaan soek.

Wat sê die Egiptiese kronologie? Was daar ‘n farao wat op 17 Maart 1450 vC dood is?

72. Die enigste twee farao’s wat rondom hierdie tyd geleef het, was Tutmosis III en sy seun Amenhotep II. Ons wil weet watter een van hulle op 17 Maart 1450 vC in die rooi see verdrink het. Kan die argeoloë vir ons enige inligting gee? Ja. ‘n Dokument is ontdek wat deur Amenhendab geskryf is. Hy was die biograaf van Tutmosis III. Ek lees vir u die inhoud:

73. “Kyk, die koning het sy leeftyd van baie jare voleindig; hy het uitgeblink in dapperheid, in mag en in oorwinning; vanaf die jaar 1 tot 54, die laaste dag van die derde maand van die tweede seisoen onder die majesteit van koning Menkeperre (Tutmosis III) triomfantelik. Hy het na die hemel opgestyg, by die son aangesluit en daar het sy goddelike ledemate met die een vermeng wat hom voortgebring het.”

74. U kyk na ‘n Egiptiese kalender wat ek in een van die tempels ontdek het. Breasted, die groot Egiptoloog sê dat Tutmosis III op die derde maand van die tweede seisoen dood is. Dis die 17de Maart 1450 vC. die presiese dag waarop die kinders van Israel deur die rooi see getrek het. Ek wil net vir u sê die Bybel is waar.

75. Ek het dit vroeër genoem, maar ek wil dit net weer ‘n keer noem. Alhoewel ons nie van die wonderbaarlike verlossing van Israel in die Egiptiese annale lees nie, moes duisende Egiptenare daarvan gehoor het.

76. Daar moes tog een of ander verduideliking gewees waarom al die Israelitiese slawe weg is. Mense moes seker gevra het waarvan hulle in die Sinaiwoestyn leef. Die bestaan van die gesaginboesemende wolk- en vuurkolom wat die slawe volk gelei het, moes by die ore van duisende Egiptenare uitgekom het.

77. In ‘n latere lesing oor die monoteïstiese farao Akhenaten, gaan ek vir u ‘n vraag vra: Het die voorstelling wat na Aten, die onsienlike Skepper God verwys, enige verband met die wolk- en vuurkolom?

78. Daar wag nog ontsettende interessante feite vir u. Hoe meer ontdekkings die argeoloë maak, hoe meer lig word daar op die betroubaarheid van die Bybel gewerp.

79. Argeoloë het sy grafkelder in die vallei van die konings ontdek en ek het daar besoek gaan aflê. Ek moet net vir u noem dat dit ‘n baie groot belewenis is om op hierdie historiese plekke te stap.

80. Tutmosis III het gehoop om eendag hier op die hoogste plek in die vallei van konings met groot koninklike waardigheid begrawe te word.

DIE VERBLOEMING VAN DIE DOOD VAN TUTMOSIS III

81. Dit het nie gebeur nie. Soos ons sopas in die Bybel gelees het, het hy in die rooi verdrink. Ten einde hierdie groot ramp vir die nageslag te verberg, het die Egiptenare toe ‘n ander mummie hier kom begrawe.

82. Deur die eeue is grafrowery van juwele en mummies in die vallei van die konings gepleeg. En toe op ‘n dag het die priesters besluit om die oorblywende mummies uit hulle grafkelders te verwyder en in twee ander grafkelders gaan begrawe.

83. Vir baie jare het die klompie mummies gewag dat argeoloë hulle moet kom ontdek. Dit het toe in 1871 by Deir el Bahri plaasgevind en die mummies is na na die Kaïro museum geneem.

84. Argeoloë was baie opgewonde toe hulle die naam van Tutmosis III op een van die mummies raakloop. Uiteindelik het hulle op die Napoleon van Egipte afgekom.

85. In 1973 het twee X straal geleerdes, Harris en Weeks, navorsing op die sg. mummie van Tutmosis III in die Oriental museum in Chicago gedoen. En raai wat? Dit was toe nie die farao wat vir 53 jaar geregeer het nie. Hulle het die wêreld probeer bluf deur ‘n jongman van ongeveer 34 jaar in sy plek te mummifiseer. Hoekom? Hulle wou die verdrinking van hulle farao in die rooi see verbloem.

86. Dit het 3500 jaar geneem voordat die Bybelse verslag van die verdrinking van hierdie farao bevestig is. Die wetenskap van die argeologie het weereens op ‘n baie unieke wyse die betroubaarheid van die Bybelse verhaal bevestig.

87. Terwyl ek die beroemde halfvoltooide graf van Tutmosis III besoek het, het ek sommer baie meer bewondering vir die akkuraatheid van die Bybel beleef. Hierdie ontdekking help my om die goedheid van die Here net meer en meer te besef.

88. Hy laat toe dat hierdie ontdekkings gemaak word sodat ons geloof in die betroubaarheid van die Bybel net sterker en sterker sal groei. ‘n Mens begin selfs die tekste wat sê dat die Here gewillig is om al ons sondes te vergewe makliker te glo.

VOLGENDE LESING

89. U kan nie bekostig om die volgende lesing oor die volgende faraos mis te loop nie. Vir baie jare het ek probeer om die graf van Amenhotep II besoek, maar vir baie jare was dit vir die publiek gesluit.

90. En toe een jaar, tot my groot blydskap kon ons die graf besoek. In die volgende lesing gaan ons sien hoe hy op die dood van sy oudste seun tydens die tiende plaag gereageer het. Intussen wil ek net die volgende juweeltjie by u laat.

DIE OMPAD VAN DIE LEWE

91. Kyk baie mooi na die satelliet foto van die rooi see, die Sinai skiereiland en Israel. Pleks dat die Here Sy volk op die kort pad na Kanaan lei, neem Hy hulle op ‘n vreeslike lang ompad. Hoekom?

92. Eksodus 13:17,18 verduidelik “Toe farao (Tutmosis III) die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was. Want God het gesê: die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, Amenhotep II was op pad terug van ‘n militêre veldslag in Siro-Palestina) en teruggaan na Egipte. Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die Skelfsee.”

93. As Israel die kortpad geneem het, sou hulle met farao Amenhotep II gebots het wat in Junie 1450 na Egipte teruggekeer het. In Sy groot bedagsame liefde wou die Here Sy kinders hierdie beproewing spaar.

94. As dit vir u op hierdie oomblik lyk asof die Here u op ‘n ompad na u eindbestemming lei, hou moed. Die Here het net u beswil in gedagte. Net Hy weet van sekere gevare op die pad en in Sy groot liefde vir ons, lei Hy ons op ‘n ompad.