JOSEF EN DIE HIEKSOS

In ons vorige lesing het ons na die lewe van Abraham gekyk en by Ur van die Galdeërs ‘n besoek gaan aflê. Toe Abraham sy tuiste verlaat het hy een van die ontwikkeldste beskawings van die tyd verlaat.

Daar was nie ‘n gebrek aan goud nie. Kyk net hoe lojaal het hulle met hierdie geel metaal te werk gegaan. Dit waarna u kyk het dames baie eeue gelede gebruik om hulle selfbeeld te verbeter.

Nadat Jakob 14 jaar lank vir Laban skape opgepas het, is Josef in Haran gebore. Kom ons lees wat die Bybel oor sy geboorte skryf:

Genesis 30:23,24 Sy het swanger geword en ‘n seun in die wêreld gebring en toe sê sy: “God het my skande weggeneem.” Toe noem sy die seun Josef, “want,” het sy gesê, “die Here sal my nog ‘n seun gee.”

Die woord Josef kom nie net in die Bybel voor nie. Ek was baie opgewonde toe ek die naam in die antieke Feneciese en Aramese tale raakgeloop het.

Op ‘n dag het Jakob vir Josef na Sigem toe gestuur om vir sy broers kos te vat. Met sy aankoms, sê die mense vir hom dat sy broers sonder hulle pa se toestemming hulle vee na Dotan geneem het om daar te laat wei.

Eers gooi hulle hom in ‘n put en daarna verkoop hulle hom aan die Ismaeliete vir 20 stukke silwer.

Het iemand jou al in ‘n put van verwerping gegooi. Het iemand naby aan jou, jou vir die prys van ‘n slaaf verkwansel?

Wanneer ‘n mens die Egiptiese hiërogliewe lees, ontdek jy iets baie interessants.

Handelaars het voor die tyd van die Hieksos slawe vir minder as 20 silwer stukke verkoop.

Tydens die 18de dinastie is slawe is vir meer as 20 silwer stukke verkoop. Wat sê dit vir ons? Dit sê vir ons? Die Bybel is pynlik akkuraat.

So ongeveer ‘n 100 kilometers vanaf Kaïro kan ‘n mens die interessante Fayyumgebied besoek. Die hoofstad word ook Fayyum genoem.
Dit wat my aandag meer as hierdie waterwiele getrek het, was die naam van die kanaal wat deur die stad vloei.

Die Arabiere noem die kanaal Bahr Yusef.

Moslem tradisie glo dat Josef die kanaal gebou en toe die gebied ontwikkel het. Hulle beweer dat Josef ook ander besproeings projekte in hierdie gebied aangepak het.

DIE POLITIEKE WêRELD WAARIN JOSEF GELEEF HET

Die tydsgleuf waarna ons tydens hierdie lesing kyk, strek vanaf 1780 tot 1590 vC. Dit het met die 12de dinastie begin en met die 17de dinastie geëindig.

Gedurende hierdie tyd het die Hieksos, die “Hega-Khase”,“Heerser van vreemde lande” Egipte vanaf Asië binnegeval.

Hulle is die eerste beskawing wat ‘n strydwa en perd gebruik het. Destyds was dit net so revolusionêr as die uitvinding van tenks in die 20ste eeu.

Die Hieksos maak hulle hoofstad by Tanis. Ongeveer 1600 vC. het die Egiptenare met ‘n bevrydingstryd teen hierdie vreemde oorheersing begin.

Die Hieksos is volkome deur Sekenen-Re, Kamosis en Amosis verslaan, hulle hoofstad Avaris is ingeneem en hulle is uit Egipte verdryf.

SOAN

Die Hebreeuse naam van die stad wat vroeër in al sy glorie hier gepryk het, was Soan. Die hiërogliewe verwys na die plek as Sa’anu en die Grieke na “Tanis”.

Ons lees vir die eerste keer van Soan in

Numeri 13:22 “Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou.”

Maar Tanis of Soan, het nog ‘n ander naam ook gehad. Ons lees in die verslae van die sesde Egiptiese dinastie dat die plek ook Avaris genoem word.

Gedurende die 12de dinastie is Soan, Tanis, Avaris in ‘n militêre vestingstad omskep.

Die stad moes die noordoostelike toegang na Egipte beskerm.
RAMSES II

Nadat die hieksos uitgedryf is, het Tanis vir ‘n lang ruk in puin gelê. Toe Ramses II die Egiptiese troon bestyg, besluit hy om die stad te herbou.

Raai na wie het Ramses II Tanis vermoem? Na homself.

Die Bybel bevestig die feit dat Tanis vir ‘n beperkte tyd Ramses genoem word voordat die naam weer in misbruik verval het.

Eksodus 1:11 Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou.

DIE GODE VAN DIE HIEKSOS

Die Hieksos het sommige aspekte van die Egiptiese kultuur hulle eie gemaak en ook van hulle gode aanbid. Ons noem die aanbidding van baie gode politeïsme.

Van al die Egiptiese gode het hulle besluit om vir Set hulle hoofgod te maak. ‘n Studie van die antieke gode is baie interessant.

Deur die eeue het hulle van naam verander. Byvoorbeeld die Hieksos het die Egiptiese god Set met die Kanaänitiese storm god Baäl geassosieer.

By Baalbek het die Kanaänitiese god Baäl later die Griekse naam Jupiter en die Latynse naam Zeus ontvang.

Die Egiptiese god Set was aanvanklik die god van die lug, van die woestyn en van die storms. Later het hy wanorde, oorlog en alles wat boos is, voorgestel.

Josef het sy rug op Set en al die ander Egiptiese gode gedraai. Josef het homself voorgeneem om net aan die God van sy Vader Jakob, Isak en Abrahm getrou te bly.

RAMSES VERANDER WEER SY NAAM NA SOAN

‘n Ruk na die dood van Ramses II is die stad se naam weer na Soan verander. Kom ons lees in Psalms van ‘n baie interessante insident wat hier plaasgevind het:

Psalm 78:12 “Voor die oë van hulle voorvaders, het Hy wonders gedoen in Egipte, in die veld by Soan.”

Wat was hierdie wonderwerke? Aäron se kierie het in ‘n slang verander. Toe die towenaars hom namaak en hulle kieries in dooie slange laat verander, het Aäron se slang hulle slange ingesluk.

IN DIE TYDPERK VAN JESAJA

Agt eeue vC. was Soan nog steeds ‘n magtige stad. Kom ons hoor wat ‘n profeet van daardie tyd skryf:

Jesaja 19:11 Die vorste van Soan is net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers het domheid geword.

‘n Merkwaardige Bybelprofesie is vervul toe Asjurbanipal van Assirië Egipte binnegeval en Soan verower. (Anet 294b)

‘n Honderd jaar later het Soan, tydens die leeftyd van die profeet Esegiël, egter nog steeds ‘n prominente rol gespeel.

Terwyl ek tussen die ruïnes rondstap, het ek aan ‘n profesie van Esegiël gedink. Hy het die vernietiging en verbranding van die stad voorspel.

Esegiël 30:14 En Ek sal Patros verwoes en ’n vuur werp in Soan en strafgerigte voltrek in No.

Ons kyk hier na die vervulling van ‘n merkwaardige profesie.

BYBELSE BEWYSE VAN HIEKSOS OORHEERSING

Wanneer mens Josef se verhaal lees, merk jy dat nie-Egiptiese heersers op die troon was. Egiptiese amptenare sou nie sommer ‘n Semiet soos Josef in so ‘n hoë administratiewe pos aangestel het nie. Luister na hierdie teks:

Genesis 39:1 Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, ‘n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, ‘n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het.

Die verwysing na Potifar as ‘n Egiptenaar sou oorbodig gewees het as daar ‘n Egiptiese farao op die troon was. Hierdie inligting gee mens meer vertroue in die Bybel.

Hofdienaars, mense wat vir die koning in die paleis gewerk het, was gewoonlik ontman.

Alle aanduidings dui daarop dat Potifar ook ‘n ontmande was.

Wanneer mens die historiese feite ken, verstaan jy waarom die vrou van ‘n ontmande Potifar so agter Josef aangehardloop het.

Genesis 39:20,21 Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.

Indien jy in die tronk van onregverdige behandeling, kroniese hartseer of skuldgevoelens sit, wil ek net sê daar hoop is. Vertrou die Here met jou tronksituasie en Hy sal jou na die troon van Sy genade verhef.

Kom lees die droom wat die farao gehad het, en wat Josef vir hom uitgelê het:

FARAO SE DROOM

Genesis 41:17-21 Toe sê die farao vir Josef: “In my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan. Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras. Na hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelike en maer.

Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie. Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op. Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin. Toe het ek wakker geskrik.”

Ek kan jou nie vertel hoe opgewonde ek was toe ek na hierdie muurprent van presies sewe koeie gekyk het. Mense. Die Bybel is waar.

GRONDBESIT

Voor die inval van die Hieksos het gewone Egiptenare saam met die koning en die priesters hulle eie grond besit. Maar nadat die Hieksos verdryf is, vind ons ‘n baie interessante verwikkeling.

Die geskiedenis van die 18de dinastie wat in 1590 vC. begin het, sê dat al die eiendom nou in die hande van die farao was. Dis net die tempeleiendomme wat nie aan die farao behoort het nie.

Hoe verduidelik ‘n mens dit? Voor die Hieksosperiode besit die gewone mens grond. Na hierdie tydperk is die farao skielik die alleeneienaar van alle grond? Is daar ‘n verduiliking? Ja. Ons vind die antwoord net in die Bybel:

Genesis 47:18-20 Aan die einde van daardie jaar, en die volgende jaar, het die mense weer by Josef gekom en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir Meneer wegsteek nie: ons geld is op en u besit reeds al ons vee. Ons het niks meer oor om vir u te bring nie, net onsself en ons grond.

So het Josef al die grond vir die farao opgekoop. Al die Egiptenaars het hulle lande verkoop, want die hongersnood het hulle swaar gedruk. Die land het aan die farao behoort.

JOSEF ‘N TIPE VAN JESUS

Tydens ‘n besoek aan die Britse museum, het ek op ‘n fantastiese fonds afgekom. Terwyl argeoloë met opgrawings in Egipte besig was, het hulle ’n sarkofaag van ‘n Egiptiese koning ontdek.

Toe hulle die besonderhede versigtig nagaan, ontdek hulle dat hy een van die Hieksoskonings was. Maar dis nie al nie. Hy het om en by die jaar 1600 vC. geregeer.

U kyk hier na die sarkofaag van Koning Nubkheperri Injotef V wat vir Josef as eerste minister van Egipte aangestel het. Dis ongelooflik opwindend!

Die verhaal van Josef is vir my een van die mooiste in die hele Bybel want hy is ‘n tipe van Jesus. Net soos Josef, word Jesus ook deur Sy broers verkoop.

Nadat Josef uit die tronk gekom het, het hy die regeerder van die land geword en die antieke wêreld van hongersnood gered.

Nadat Jesus uit die tronk van die dood gekom het, het Hy ook die redder van die ganse wêreld geword. Hy het Sy graanskure van genade vol hemelse brood gepak sodat ons nie van geestelike honger hoef te sterf nie.

Die Bybel sê vir ons dat Josef sy broers vergewe het. Hy het kwaad met goed vergeld en vir hulle die land Gosen gegee, die beste gedeelte van Egipte.

Jesus het ook al ons skuld aan die kruis vergewe. Hy is tans besig om vir ons ‘n hemelse land Gosen voor te berei – ‘n land sonder sakdoeke en doodskiste.

Genesis 50:25 “Wanneer God na julle omsien en hulle laat trek, moet julle my liggaam van hier af saamvat.

Vers 26 “Josef is dood toe hy honderd en tien jaar oud was. Hulle het hom gebalsem en en hom daar in Egipte in ‘n kis gesit.

Volgens die gebruik van daardie tyd, is Josef net soos ‘n farao gebalsem en iewers tydelik begrawe. Met die uittog het hulle sy liggaam na Kanaän geneem.

Deur die jare van slawerny wat gevolg het, het verslae pynvervulde verdrukte Israeliete wat hier by Tanis gewoon het, het moed geskep wanneer hulle Josef se graf gesien het.

Sy afskeidswoorde was vir hulle ‘n voortdurende herinnering dat hulle eendag van slawerny na die vryheid van die beloofde land sal trek.

Dis hier waar hulle die eerste pasga gevier het. Dis hier waar die wolk- en vuurkolom die naglig in glorie omskep het.

Dis by Avaris waar hulle van ‘n nag van slawerny en pyn na ‘n helder dag van emansipasie, van vryheid vertrek het.

En ek wil ook net vir jou sê dat die verhaal van Josef ook met jou en my praat. Iewers vorentoe gaan ons van die slawerny van pyn en swaarkry verlos word. Iewers vorentoe gaan ons weer lag en weer droom sonder dat teleurstellings dit onderbreek.

Kom ons lees waar hulle vir Josef gaan herbegrawe het:

Josua 24:32 Die liggaam van Josef wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe, in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, vader van Sigem, gekoop het vir honderd stukke silwer. Die grond het die eiendom van die nakomelinge van Josef geword.

Kan ek hierdie Bybelse gegewens as betroubaar aanvaar?

Dit was vir my ‘n groot oomblik toe ek Josef se nuwe graf in Nablus, die Bybelse Sigem gaan opsoek het.
Die inligting wat die Bybel byna drie duisend jaar gelede gegee het, is waar, dis betroubaar.

Terwyl ek by Josef se graf gestaan het, het ek aan die volgende besielende sitaat gedink:

“Die wêreld se grootste behoefte is die behoefte aan manne – manne wat nie gekoop of verkoop kan word nie, manne wat in die diepste van hul wese eg en eerlik is, manne wat nie vrees om sonde by die regte naam te noem nie, manne wie se gewete so getrou is soos die kompasnaald aan die pool, manne wat sal staan vir wat reg is, al sou die hemel val.” Opvoeding, bld. 57

Volgende keer gaan ons op die onsterflike voetspore van Moses loop. Jy gaan sien waar hy gebore is, waar hy grootgeword het.

Ons gaan ook die Universiteit besoek waar hy in al die wysheid van Egipte opgevoed is. Mag die Here met ons wees terwyl ons die pragtige heilsgeskiedenis van Ou Testament bestudeer. Mag dit mooier mense van ons maak.