BYBELSE RAAD VIR DEPRESSIE

Skriftuur: 1 Konings 19:4-8

4maar self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ‘n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. 5Daarop gaan hy lê en raak onder ‘n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ‘n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet! 6Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ‘n broodkoek, op warm klippe gebak, en ‘n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.8Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.

Elia wou gehad het dat die hervorming wat op die berg Karmel begin het, volgens sy verwagtings moes verloop. Hy het verwag dat Isebel sou erken dat die God van Israel die ware God is, en dat Baäl niks meer as net ‘n afgod is nie. Hy het depressief geraak toe hierdie geestelike verwagtings nie realiseer nie.

Wat is jou verwagtings met betrekking tot die mense wat jy bearbei? Hoe reageer jy wanneer hulle nie die waarheid wil insien nie? Elia het ook moedeloos geraak omdat hy gemeen het dat die spesifieke beproewing wat oor hom gekom het onregverdig was, en meer as wat hy kon deurstaan. Doodmoeg maar met groot verwagtings raak hy daardie nag aan die slaap. ‘n Rukkie later skud ‘n koninklike wag hom wakker. “Luister hier Elia, Isebel sê sy gaan vir jou net so slag soos wat jy haar Baälpriesters geslag het.” Elia besluit net daar en dan dat die Here hom onregverdig behandel het en hy word moedeloos.

Hoe kyk jy na die beproewings in jou lewe? Voel jy dat die Here so ‘n paar van hulle maar agterweë kon gelaat het? Meen jy Hy is so ‘n bietjie onregverdig? Ons moet een ding baie goed verstaan. As die Here sou keer dat die duiwel sekere beproewings oor ons bring, gaan hy die Here aankla en sê dat Hy ons onregverdiglik beskerm en ander mense laat ly.

1 Konings 19:3 Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat.

‘n Moedelose, teleurgestelde Elia skud aan sy slaaf: “Sebulon, word wakker. Ons moet vlug. Isebel wil my doodmaak.” Arme Sebulon. Hy het so pas 28km vanaf Karmel na Jisreël gehardloop en nou moet hy al weer die pad vat. Twee donker figure verdwyn in die nag. Na
95 km se loop en hardloop, loop en hardloop, kom hulle by Berseba aan.
SEBULON SE VRAAG
Sebulon kon sien sy meester is nie heeltemal dieselfde man as wat hy op Karmel was nie. Toe hulle naby Jerusalem kom vra hy vir Elia of hulle nie net vir ‘n paar dae lank daar kon oorbly nie. Maar Elia is kortaf en wil niks weet nie. Hy sê vir Sebulon daar is sterk diplomatieke bande tussen die twee koninkryke en dat Isebel baie maklik om sy uitlewering kon vra. Sebulon het weer met sy meester probeer praat, maar Elia was lelik met hom. Hy het nie lus gehad om te gesels nie. Miskien het die slaaf so hier en daar ‘n woordjie van bemoediging probeer inkry maar dit het ook nie gehelp nie.

“Meneer, verskoon my. Maar wat ons nou nodig het is om geloof in die Here se beloftes te beoefen. Meneer. Ons moet meer bid. Miskien sal dit ook beter gaan as ons weer aktief vir die Here begin werk.” Dit kan wees dat Sebulon die slaaf die volgende aanhaling uit die boek “Prophets and Kings” vir Elia gelees het:

“Moenie in donker oomblikke vreesagtig word wanneer alles en almal teen jou draai nie. Plaas jou vertroue op die Here want Hy ken jou behoeftes. En onthou. Sy oneindige mag en liefde en deernis ken geen perke nie.” (Bladsy 164).

SELFVERSEKERD

Miskien het Elia so ‘n bietjie selfversekerd geraak toe die vuur uit die hemel die Karmeloffer verbrand het. Miskien het Elia baie trots op homself gevoel toe hy om reën gebid het, en dit ‘n uur of wat daarna begin reën. Dit mag wees dat Elia so selfversekerd was dat hy die Isebel-probleem in eie krag wou aanpak en toe ontdek het dat hy dit nie kan doen nie. Paulus het iets mooi geskryf:

2 Korintiërs 12:10 Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Kom ons voel maar altyd ‘n bietjie geestelik swakkerig.

VAN BERSEBA NA DIE WOESTYN

Uiteindelik kom Elia en sy slaaf by Berseba, die hoofstad van die Negev-woestyn, aan. Teen hierdie tyd wou hy nie ‘n enkele mens meer sien nie, nie eers sy slaaf wat in sy fisiese behoeftes voorsien het nie. Hy wou stoksielalleen wees.

“Sebulon. Ek wil hê jy moet hier in Berseba agterbly. Ek gaan verder.”
“Maar meneer. Hoe gaan u in hierdie barre woestyn aan die lewe bly? En wie gaan na u fisiese behoeftes omsien? Meneer, meneer…”

Sonder om sy slaaf te antwoord, strompel ‘n moedelose Elia die groot barheid van ‘n onherbergsame woestyn binne.

1 Konings 19:4 Hy self het egter ‘n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

VAN BERSEBA NA DIE BESEMBOS

Wanneer jy deur die Negev-woestyn reis, sien jy baie van hierdie ou vaal bossies. Die Bedoeïene gebruik hulle blaarlose takkies om besems mee te maak. In my geestesoog sien ek hoe Elia deur die uitgestrekte Negev-woestyn slinger. Maar hy slinger nie net deur ‘n fisiese woestyn nie, hy slinger ook deur die genadelose woestyn van sinloosheid en depressie.

Elia het homself as profeet van die Here ontslaan. Hy is klaar met die werk van die Here. Kort-kort raak die woestynsand hier voor hom dof soos wat die trane van bitter teleurstelling oor sy wange rol. Die man wat ‘n kort rukkie vantevore fier en fors op die hoogtes van Karmel gestaan het, bevind hom nou onder op die woestynvlaktes van moedeloosheid. Hy strompel aan en aan in die hoop om iewers vorentoe van honger en dors en uitputting tot sterwe te kom.

En toe gebeur dit. Elia sak langs ‘n besembos inmekaar. Hy lê met sy kop op sy linkerarm en wag om te sterf. Wat ‘n verskriklike hartseertoneel. Die man wat regop en vol moed met onverdeelde trou aan die Here voor duisende mense by Karmel gestaan en preek het, het geknak. Die man wat ‘n hele volk opgeroep het om hulle vertroue in die Here te plaas, het sy vertroue in die Here se leiding verloor. Hy lê nou moedeloos onder ‘n besembos en wens hy kan sterf. Die Eliaboodskapper het nou self nodig om die Elia-boodskap te hoor.

Het jy miskien van die hoogtes van ‘n Karmel-ondervinding met die Here tot die laagtes van ‘n besembos-situasie van moedverlorenheid gedaal?

DIE HERE VERLAAT ONS NIE

 Hoe tree die Here teenoor iemand op wat moedeloos geraak het en Hom in die steek gelaat het?

 Hoe tree die Here teenoor iemand op wat moedig moes bly, maar toe in depressie verval het?

 Hoe tree die Here teenoor die mens op wat Hom bitter teleurgestel het?

Weet jy wat?

Die Here het Elia nog net so liefgehad toe hy God- en mensverlate gevoel het as wat Hy hom op Karmel liefgehad het toe Hy in antwoord op gebed, vuur van die hemel laat neerdaal het.

Die Elia-boodskap verkondig dat God omgee vir moedelose mense. Die Elia-boodskap verkondig dat God se liefde nie teenoor ons verander wanneer ons liefde teenoor Hom verander nie.

DIE BEHANDELING VAN DEPRESSIE

Kom ons kyk hoe die Here Elia se depressieprobleem benader het:

1 Konings 19:5 Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ‘n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”

Die Here kyk na Sy dienskneg wat daar onder die besembos aan die slaap geraak het. Hy het nagmerries. Kort-kort gee sy hele liggaam so ‘n ruk van onsteltenis. Op sy gesig lees mens die boodskap van verwarde depressie.

“Gabriël!” roep Jesus, terwyl hy ‘n paar trane afvee. “Ek het ‘n baie spesiale werk vir jou. Ons vriend Elia het so ‘n bietjie moedeloos geraak. Hy lê so ongeveer 20km suid van Berseba onder ‘n besembos en ly aan uitputting. Gabriël, ons moet hom red. Daal oombliklik neer na hom toe en gaan vat aan hom. Hy moet jou fisiese aanraking voel want hy is verskiklik verlate. Hou aan om aan hom te vat totdat hy wakker word want Ek het ‘n diep slaap oor hom laat kom. En, Gabriël, nou moet jy baie mooi luister. As Elia wakker word, gaan hy verwilderd opspring, dink dis ‘n vyand wat op hom afgekom het, en hy sal dadelik weer wil vlug.

Glimlag dan vir hom mooier as wat jy nog ooit in jou lewe geglimlag het. Gabriël,” en Jesus vee eers ‘n traan af, “moenie dat hy die idee kry dat die hemel in hom teleurgestel is nie. Daar mag geen verwyt in jou oë wees nie. Straal vir hom ‘n glimlag van volle aanvaarding en hemelse bemoediging uit. Dis al wat hy op hierdie oomblik baie dringend nodig het.”

‘N LEKKER BORD KOS

Binne ‘n breuk van ‘n sekonde verlaat Gabriël die hemelse heerlikheid. Hy beweeg by miljoene sonnestelsels verby en peil reguit na die planeet Aarde toe. Daar onder ‘n besembos, 20 kilometer suid van Berseba kom hy op die patetiese figuur van die eens magtige profeet Elia af. Opgekrul soos ‘n fetus, moeg en moedeloos, het Elia aan die einde van sy krag en moed gekom. Hy lê daar onder die besembos op die harde grond en slaap. Toe Gabriël sien hoe ‘n paar lui woestynvlieë oor daardie moedelose gesig loop, kry hy hom innig jammer. Bedagsaam waai hy die vlieë weg.

Wat ‘n indrukwekkende toneel. Die engel van die Here kniel langs ‘n moedelose mens en bedien hom met al die teerheid en al die liefde van die hemel, plus ‘n heerlike ete.

1 Konings 19:5, 6 Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ‘n engel hom en sê: “Word wakker! Eet! Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ‘n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

Ek wens ek kon daar naby staan. Gabriël het eers gou ‘n paar klippe in ‘n mikrogolfoond verander en ‘n heerlike roosterkoek gebak.

Terwyl die geur van varsgebakte brood voor Elia se neus verby sweef, vat die engel met al die hemelse liefde in sy hart aan Elia se moedelose skouers. Elia skrik verwilderd wakker. “Waar is ek nou? Waar is ek nou? Wie is jy? Wie is jy?”

Toe die bevreesde, moedelose Elia tot sy sinne kom, kyk hy in die vriendelikste gesig wat hy nog ooit gesien het. Die engel praat met die mooiste stemtoon wat Elia nog ooit gehoor het.

“Elia my ou maat, moenie bang wees nie. Ek het vir jou ‘n smaaklike roosterbrood op hierdie klip gebak. En hier is ook vir jou ‘n heerlike kruik koel minerale water. Ek kan sien jy is verskriklik dors. Elia, iemand het die water gestuur.”

DIE WEDUWEE VAN SARFAT SE BROOD EN DIE VAN GABRIëL

Dis interessant dat die selfde woordjie vir brood “uggah” wat hier gebruik word, ook gebruik is vir die brood wat die weduwee van Sarfat vir Elia gemaak het.

Terwyl Elia die varsgebakte brood eet, gaan sy gedagtes uit na die dag toe hy by Sarfat aangekom het. Hy dink aan die wonderwerk van die meel en die olie wat nooit opgeraak het nie. Baie taktvol word Elia daaraan herinner dat die Here vir ‘n mens in al sy behoefte kan voorsien. Elia het geknak omdat hy vergeet het hoe die Here hom in die verlede gelei het. En nou probeer die Here baie taktvol om Elia se gedagtes terug te neem na die bedagsame manier waarop Hy vroeër vir hom gesorg het.

MOENIE VERWYT NIE

Hoe meer ek oor die lewe van Elia peins, hoe meer waardeer ek die Here se liefdevolle leiding in die lewe van Sy kinders. Hoe meer ek die Elia-boodskap bestudeer, hoe meer besef ek hoe verskiklik ver ek te kort skiet en hoe oneindig genadig die Here is. Die Elia-boodskap sê: In plaas daarvan dat jy iemand verwyt, gee hom liewer iets om te eet. Ons laat nie op ons wag om iemand op sy foute te wys en te verwyt nie. Byvoorbeeld: Jou man koop ‘n kar. Jy sê vir hom: “My man. Ek sê nou vir jou, jy maak die fout van jou lewe. Laat staan dit.”

Maar hy besluit tog om die kar te koop. Na ‘n week, blaas die “gasket.” Wat gaan jy heel moontlik vir hom sê? “Het ek jou nie gewaarsku om nie die kar te koop nie. Dis baie goed dat jy jou kop gestamp het. Volgende keer sal jy vir my luister. Jy is net so hardkoppig soos jou oorlede pa. Ek moes na my ma geluister het en nooit met jou getou het nie.”

Maar sê nou maar jou vrou tree teenoor jou op soos wat die Here teenoor Elia opgetree het en sy sê:

“My skat. Ek is baie jammer dat dit moes gebeur het. Ons maak maar almal foute. Ek glo jy het gedink jy doen vir ons die beste toe jy die kar gekoop het. Ek kan sien jy is baie bedruk. Moenie te sleg voel nie my skat. Kom ek maak gou vir jou ‘n lekker bord kos met gebakte aartappels daarby. Jy is tog so lief vir aartappels.”

Dis hoe die Elia-boodskap klink en smaak. Bemoediging pleks van verwyt – met ‘n heerlike bord kos daarby. Verkondig ek en jy die Elia-boodskap?

DIE TWEEDE BORD KOS

Nadat Elia sy maag vol geëet het, het hy weer gaan lê en met rustiger gedagtes aan die slaap geraak. Hy het verwag dat ‘n vyand hom sou kom vernietig maar toe bring ‘n baie vriendelik engel in die gedaante van ‘n mens vir hom kos.

Dis die soort liefdevolle God wat ek en jy dien. Hy laat ons nie aan ons lot oor wanneer ons moedverlore in die woestyn van ons verkeerde optrede inloop nie. Hy wag ons daar in met ‘n bord kos en nie met verwyte nie.

DIE WERK VAN ENGELE

Voordat ek vir jou van die tweede bord kos vertel wat Elia uit die hand van Gabriël ontvang het, lees ons net eers die volgende teks oor die werk van die engele:

Hebreërs 1:14 Is hulle nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om die te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

Is dit nie bedagsaam nie? Wanneer jy geval het, laat die Here jou nie lê nie. Hy stuur nie net Sy Heilige Gees om met jou te pleit nie, Hy stuur ook Sy engele om jou weer op die pad van diens en gehoorsaamheid aan te moedig.

Nadat Gabriël vir Elia kos en water en bemoediging gegee het, is hy terug hemel toe om aan Jesus te rapporteer. Maar sy werk was nog nie afgehandel nie.

“Gabriël, jy sal moet teruggaan om vir Elia nog ‘n keer te gaan kos gee. Dit gaan ‘n bietjie beter met Elia, maar hy het nog baie aandag nodig. Ek wil hê jy moet vir hom ‘n baie spesiale bord kos vat.
Jy sien Gabriël, Elia het rigting ingeslaan na die berg Horeb toe. Daar is nie vir hom kos langs die pad nie. Jy moet vir hom ‘n ete neem wat hom vir 40 dae lank gaan hou.”

Binne sekondes staan Gabriël langs die slapende Elia met kos wat uit die hemel kom.

NOG ‘N BORD KOS

1 Konings 19:7,8 Die engel het ‘n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.

In die volgende hoofstuk gaan ons saam met Elia tot by Horeb stap. Ons gaan sien hoe tederlik die Here met sy gevalle dienskneg gewerk het.

Die Elia-boodskap verwyt nie.
Die Elia-boodskap voed en herstel mense.
Die Elia-boodskap weerkaats altyd die wonderbaarlike reddende genade van die Here.