DIE VREUGDEBOODSKAP VAN DIE SABBAT

Kom ons neem ‘n verbeeldingsvlug na die geboorte van ons planeet. Hoe het alles begin? Genesis 1:1,2 gee vir ons ‘n geïnspireerde beskrywing van hierdie onbegryplike skeppingsdaad.

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemaal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God oor die waters gesweef.”

U kan gerus weer ‘n keer die pragtige verhaal van die skepping in die eerste twee hoofstukke van Genesis lees. Die Skepper het met soveel sorg elke organisme gemaak.

Wanneer mens na die omvang van die skepping kyk, besef jy die onmeetlike dimensies van alles. Dis goed om oor hierdie dinge te peins want jou agting van die Skepper word net groter.

So ongeveer 200 jaar gelede het die teorie van evolusie ontstaan. En dit sê dat alles wat ons sien, nie geskep is nie, maar deur ‘n proses van evolvering, toeval en mutasie ontstaan het. Dis ‘n baie subtiele aanval op God as die Enigste Skepper.

Dit staan lynreg teenoor die boodskap van Genesis I.

Genesis 1:4 “…Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.”

Die Bybel leer dat die skeppingsweek in ses letterlike dae ingedeel is. ‘n 24 uur dag begin met sononder en eindig met sononder die volgende dag.

Genesis 1:8 “…Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.” Die Bybel verwys hier na ‘n letterlike 24 uur dag. Kom ons glo dit.

Die sinsnede: “En God het gesien dit is goed.” Kom vyf keer in Genesis 1 voor. Dit bots met die evolusieteorie wat sê ons nog op pad na volmaaktheid toe is. Die tweede wet van termodinamieka sê dat alles besig is om van orde na wanorde te verval. Alles slyt, alles word oud.

Dit moes ‘n onbeskryflike mooi aarde gewees het toe hy uit die hand van die Skepper gekom het. Alles was onsterflik. Volmaakte voëls het deur die skoon blou lug gevlieg en lof aan hulle Skepper gebring. Wat het God gemotifeer om hierdie pragtige planeet met sy volmaakte ekologiese sisteem te skep?

Liefde is progressief. Liefde soek gedurig nog meer voorwerpe om homself op uit te stort. God het die eerste mens geskep om al Sy liefde op hom uit te stort. En God het jou geskep om Sy liefde op jou uit te stort.

1Toe die son daardie eerste Vrydagmiddag oor ‘n volmaakte skepping met twee sondelose mense ondergegaan het, het dit die volgende reaksie by die Skepper ontlok.

Genesis 1:31 “Toe sien God wat Hy gemaak het en dit was baie goed. En dit was aand en dit môre, die sesde dag.

1Adam en Eva wat uit die hand van die Skepper gekom en het geen oorerfde neiging tot sonde gehad nie. Daar was nie herinneringe aan traumatiese kinderdae nie. Twee sondelose mense was volmaak gelukkig. Maar daar het nog een iets kortgekom – kwaliteit tyd met die Skepper.

Terloops. Die grootste geskenk wat ‘n ouer sy kind kan gee, is die geskenk van sinvolle aandag en geselskap. Ons doen dit te min. Kom ons lees aangaande God se geskenk van tyd aan die mens:

Genesis 2:2,3 “God het op die sewende dag Sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al Sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit te heilig, omdat Hy daarop gerus het van al Sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”

Die Skepper sonder die sewende van die week af om vir Adam en Eva te sê dat Hy op ‘n besondere wyse vir hulle beskikbaar is.
Die Sabbat is ‘n paleis gebou uit tyd waarin die Skepper op ‘n sinvolle wyse met Sy kinders wil sê hoe baie Hy vir ons omgee.

As sonsondergange op hierdie geskonde planeet so pragtig is, hoe volmaak moes daardie eerste Vrydagaand se sonsondergang nie gewees het nie!

Genesis 2:2,3 bring die gedagte uit dat God die Sabbat deur middel van drie afsonderlike dade ingestel het.

Eerstens kry ons die “Rus” gedagte. Nie net fisiese rus nie. Maar ‘n rus wat ons in in ‘n verhouding met Jesus vind. Die teks sê verder dat Hy die Sabbat geseën en geheilig het.

Die pragtige skeppingsordinansie van die Sabbat wil vir ons die hart van God wys. Hy verlang om op hierdie dag spesiaal baie naby aan ons te kom omdat Hy ontsettend lief vir ons is.

Exodus 31:17 “Die kinders van Israel moet die Sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen my en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.”

Wat sou u sê is die betekenis van die woorde “rus” en “verkwik”? Dit dui meestal op die vreugde van sinvolle gemeenskap.

Met ander woorde, op daardie heel eerste Sabbat het die Here die Paradys besoek en rustig met Adam en Eva verkeer. Dit het ‘n verkwikkende effek op Hom gehad. Wat ‘n verstommende gedagte van persoonlike betrokkenheid by die mens op die heilige Sabbat. Hy wil Homself nog steeds op die Sabbat in ‘n sinvolle verhouding met jou en my “verkwik”.

Toe die son daardie eerste Vrydagmiddag ondergaan, het die Skepper met Sy kinders ontmoet en vir hulle die pragtige boodskap van die Sabbat verduidelik. Voordat hulle enige werk doen, moes hulle eers in ‘n sinvolle verhouding met Hom kom rus. Hulle moes ‘n sielsrus in gemeenskap met die Skepper kom ervaar voordat hulle enige menslike werk kon verrig.

En dis vandag nog die essensie, die wese, van die boodskap van die sabbat en die evangelie.

DIE SONDEVAL

Ons weet nie hoeveel sabbatte Adam en Eva gelukkig met die Here deurgebring het nie. Dit moes vir hulle die hoogtepunt van elke week gewees het. Maar toe gebeur iets tragies.

Adam en Eva oortree die wet van liefde. Die loon van hulle sonde was die ewige dood. En omdat God nie Sy wet kan verander nie, is die doodsvonnis oor hulle uitgespreek.

Maar voordat hulle dit gehoor het, het Jesus vir hulle gesê dat Hy eendag ‘n mens soos hulle word en die straf van hulle sonde op Homself neem.

En toe, een Vrydagmiddag 4000 jaar later het Jesus aan die kruis kom sterf. Hy het ‘n belofte wat Hy aan Adam en Eva gemaak het, kom nakom.

Jesaja 53:5 Oor ons oortredings is hy deurboor, oor ons sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring , was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Mattheus 27:45 En van twaalfuur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot drie uur toe en omtrent drie uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtani? Dit is: My God, My God, waarom het U My verlaat?”
Die sabbat wat op daardie hartseer Vrydag gevolg het, het die verlossingsboodskap van hierdie heilige dag, met groter luister as ooit van tevore laat skitter.

Die eerste Vrydag in die geskiedenis van ons planeet het God die Vader en God die Seun, twee mense gemaak en gesê “Dit is baie goed.”

Vier duisend jaar later toe Jesus aan die kruis met Sy herskeppingswerk besig is, roep Hy in die vreeslikste eensaamheid uit, “My God, My God, waarom het U My verlaat”?

Jesus is deur God die Vader verlaat omdat Hy in Adam en Eva se plek kom sterf het. By die kruis het twee harte gebreek. Die hart van God die Vader en die hart van God die Seun.

Johannes 3:16 Want so (verskriklik) lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie (die tweede dood sterf nie) maar die ewige lewe kan hê.

Na die voltooiïng van die skepping van die aarde, het Jesus gerus en Homself verkwik deurdat Hy met Adam en Eva op die sabbat verkeer het.

Maar nadat Hy Sy herskeppingswerk daardie Vrydagmiddag voltooi het, het Hy die sabbat in ‘n koue graf deurgebring. Dit was die enigste Sabbat wat Jesus nie saam met mense gevier het nie. Maar Jesus se rus in die graf het die Sabbat ‘n nog ‘n mooier en dieper betekenis laat kry.

Die sabbat het nou die simbool van Jesus se voltooide verlossingswerk aan die kruis vir jou en my geword. Elke Sabbat nooi die Here Sy kinders om ‘n baie unieke rus te kom geniet.

TEKSE OOR DIE RUS EN VERLOSSINGSGEDAGTE VAN DIE SABBAT

Kom ons reis deur die blombesaaide bladsye van die Bybel. Ons soek tekse wat van die verlossingsrus van die Sabbat praat.

Die eerste teks dateer uit die tydperk toe Israel by die berg Sinai kamp opgeslaan het. Dis hier waar hulle ‘n groot sonde begaan het. Pleks daarvan om uitsluitlik in geloof op die Here te vertrou, het hulle ‘n goue kalf gemaak en aanbid.

Miskien het skuldbelaaide Israeliete na hierdie majestieuse berg Sinai gekyk en gewonder of die Here hulle van die vreeslike sonde van afgodediens kon reinig.

Terwyl ek hier by Santa Katharina besoek het, het ek aan die twyfel gedink wat soms in die sondaar se hart ontstaan: “Kan die Here regtig al my sondes vergewe? Is Hy nie al moeg om my daagliks te vergewe nie?.

Ek het goeie nuus vir u. Vanaf Sinai waar die tien gebooie gegee is, het ook ‘n boodskap van groot bemoediging gekom. Die boodskap van die Sabbat sê daar is hoop en verlossing vir elke mens wat deur die sonde besoedel is. Kom ons lees dit.

Eksodus 31:13 Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die Here is wat julle heilig.

Wat sê hierdie teks vir elke hopelose sondaar? Die Here ons kan reinig. Hoe vier ek hierdie goeie nuus? Deur die Sabbat te hou.
DIE RUS GEDAGTE IN DIE VIERDE GEBOD

Kom ons luister na die openingswoorde van die wet.

Eksodus 20:1,2 Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.

Wat se bydrae het Israel tot hierdie verlossing gemaak? En wat se bydrae kan ek en jy tot ons verlossing maak? Absoluut niks.

Ek het eenkeer ‘n bussie gehuur en met hierdie pad deur die woestyn na die rooi see gery. My gedagtes was nauurlik by die Israeliete wat 3500 jaar gelede ook op pad na die rooi see was.

Wat het gebeur toe hulle tot hulle groot teleurstelling aan die einde van die pad kom en hier voor hulle is ‘n yslike stuk water. Maar dit was nie al nie. Toe hulle omkyk het hulle ontdek dat die magtige Egiptiese leër besig was om hulle te agtervolg. Kom ons luister hoe God hulle verlos het.

Eksodus 14:13,14 Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenare vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”

En dis presies wat die sabbat vir ons wil sê. Kom geniet 24 uur se geestelike ontspanning. Kom raak stil in die wete dat die Here jou Verlosser is.

En voordat die Here Sy heilige wet op Sinai aan die volk afkondig, herinner Hy hulle aan die feit dat Hy hulle uit Egipte verlos het. Dis iets wat hulle nooit op hulle eie kon gedoen het nie. En soos wat hulle verlossing ‘n Godsdaad was, net so moet hulle gehoorsaamheid ook van God se krag afhanklik wees.

Kan jy die twee miljoen mense oor hierdie woestynsand sien loop. Die exodus wonderwerk is nog vars in hulle gedagtes. Hulle is uit genade verlos. En nou is hulle op pad na Sinai waar hulle die tien gebooie gaan ontvang.

En hier kry ons ‘n baie belangrike waarheid. Na verlossing, kom gehoorsaamheid. Die pad na Kanaän loop by Sinai verby. Die wet vertel ons hoe om as verlosde mense te leef. Die wet kom na redding en vertel vir ons hoe om die redding wat ons reeds ontvang het, te koester en op te pas.

Kom ons lees wat in die hart van die tien gebooie staan:

Eksodus 20:8 11 Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God, dan mag jy geen werk doen nie jy of jou seun of jou dogter, of jou diensmaag of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see in alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.

Kan jy die boodskap van verlossing in die Sabbatgebod sien? Dit sê ons moet rus. Maar nie net ons nie, ook die mense in ons huis. Wat se soort rus is hierdie. Is dit net fisies of sluit dit ook ‘n geestelike rus in?

Daar is iets baie spesiaals wanneer ‘n dag eindig. Veral as daar ‘n paar wolkies op die westerkim is. Op ‘n Vrydagmiddag laat, wanneer die Sabbat met sonsondergang begin, is daar soms so ‘n paar oomblikke van lieflike rustigheid. Dis so tipies van die rus van verlossing.

Egipte het vir hulle ‘n simbool van slawerny geword. Moses verwys na hierdie bitter ondervinding

Deuteronomium 5:15 Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te onderhou.”

Wat ‘n boodskap! Elke Vrydagmiddag met sonsondergang, moes die Israeliet sê: Dankie Here dat U ons uit genade, sonder verdienste, uit die slawerny van Egipte verlos het.

Maar die verlossing wat die Israeliete op die Sabbat moes vier, was baie meer as net die fisiese verlossing uit die Egiptiese slawerny.

Die Sabbat herdenk ook die verlossing uit die mag van die duiwel, wat soos ‘n roofdier soek wie hy kan verslind.

Een van die vreeslikste tronke waarin ‘n mens kan beland, is die van werksheiligheid. Met ander woorde jy probeer om God se guns deur jou goeie dade te verdien. Jy probeer ook deur selfpyniging vir jou sonde van die verlede te betaal. Die boodskap van die sabbat sê jy moenie verlossing probeer verdien nie, jy moet dit aanvaar.

Die Sabbat sê dis nie nodig om jou saligheid of jou vergifnis pynigend te probeer verdien nie. Dis alreeds op Golgotha geskenk. Verlossing bestaan oorvloedig in die hart van ons liefdevolle, vrygewige Verlosser en nie in ons pogings nie.

Dit is baie moeilik vir my trotse gevalle natuur om te glo dat ek sonder verdienste deur die genade van Jesus vergewe en geregverdig word. Ek het dan self die ellende op my gebring.
Hoe kan ek verwag dat die Here my moet vergewe? Maar dit is juis die pragtige boodskap wat die Sabbat verkondig.

Esegiël 20:12 Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat Ek die Here is wat hulle heilig.”

Elke Sabbat wil die Here ons daaraan herinner dat Hy die verantwoordelikheid neem vir die sondes wat ons gepleeg het; en ook die verantwoordelikheid op Homself neem om ons te red.

Genesis 2:3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al Sy werk wat God geskape het deur dit te maak.

Waarom gebruik Hy die woord “heilig” wanneer Hy van die Sabbat praat. Om vir jou en my te sê dat Hy ons kan verlos.

JESUS EN DIE SABBAT

Toeriste wat Israel besoek, maak baie seker dat hulle hier by Nasaret uitkom. Dis ‘n dorp met pragtige herinneringe aan Jesus wat hier grootgeword het.

Die ou sinagoge herinner aan die een waar Jesus elke Sabbat gaan aanbid het.

Daar is nie veel om te sien nie, maar dit gee ‘n mens ‘n idee van hoe dit 2000 jaar gelede gelyk het toe Jesus as jong mens hier aanbid het.

Hoe het Jesus teenoor die Sabbat gereageer? Met die skepping het Hy dit as ‘n ewige en heilige rusdag ingestel. Sou Hy die Sabbat weer met soveel eerbied bejeen? Kom ons lees in

Lukas 4:16 Toe kom hy in Nasaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.

Tussen die pragtige bome waar Hy grootgeword het, het Jesus weer ‘n keer kom besoek. Daardie Vrydagaand voordat Hy sinagoge toe is, het Hy volgens Sy gewoonte weer ‘n keer die heilige ure van die Sabbat verwelkom. Waaroor dink u het Hy die volgende dag gepreek? Sou Hy die boodskap van verlossing aan die Sabbat koppel? Baie beslis. Kom ons lees wat Lukas 4:16 19 sê:

Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.

Soos warm woestyn winde elke teer groen plantjie verskroei, so het die woestynwinde van sonde die mooi in die mens se lewe kom verskroei. Die boodskap wat Jesus daardie Sabbat gebring het, was een van hoop. Die sabbat dien as simbool van vryheid en verlossing.

Die boodskap van die Sabbat sê dat al het die woestyn ondervindings van die lewe jou uitgedroog soos ‘n dorre boom, die Here jou weer met die vog van Sy liefde kan laat herleef. Die Sabbat praat van die genadejaar van die Here.

Die Sabbat sê dat al het die wintersneeu van teleurstellings jou koud gevries, wag daar ‘n heerlike lente wanneer die sneeu in vrolike kabbellende waterstroompies gaan verander.

Rooigeverfde herfsblare wat op die grond val en vergaan, vertel van afskeid en van dood. Die Sabbat bring die goeie nuus dat daar binnekort nooit weer ‘n sterfwende, vallende herfsblaar gesien sal word nie.

DIE SABBAT VAN DIE HIERNAMAALS

Terwyl ons in die Kaap gebly het, het ons dikwels die Sabbat by die see gaan open. Dis hier waar mens van die mooiste sonsondergange kry.

En dis dan in oomblikke soos hierdie dat ek na die hemel verlang. Ek verlang na daardie eerste Sabbat saam met Jesus in ‘n land waar die son van geluk nooit weer sal sak nie.

Ek verlang na daardie eerste Sabbat wanneer ek net gelukkige kindertjies gaan sien. Ek verlang na daardie dag wanneer daar vir ewig ‘n einde gaan wees aan verhoudings wat tragies verbrokkel. Kom ons luister wat sê die Bybel aangaande die viering van die Sabbat in die hiernamaals.

Jesaja 66:22,23. Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor My aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die Sabbat, sal alle vlees kom om te aanbid voor My aangesig, sê die Here.”

Julle weet miskien van die geval. Die man het die oggend gegroet en vir sy vrou gesê hy sien haar en die kinders later daardie middag. Maar toe word sy lewe in ‘n grusame motorongeluk uitgewis.

Sy en die kinders sien uit na daardie eerste Sabbat in die hemel wanneer hulle weer bymekaar sal wees. Ek en jy sien ook daarna uit om geliefdes weer te sien

Een van die tekste wat die rus van die Sabbat die mooiste uitbring, vind ons in Mattheus 11:28. Dis Jesus wat praat. Kom ons hoor wat Hy van hierdie goddelike rus sê.

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”

Elke Vrydagaand wanneer die son in die weste sak, praat die Here van die Sabbat met die mens wat moeg geword het van sondeskuld en bekommernis. Hy nooi ons om opnuut die rus van Sy verlossing binne te gaan.

Vers 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.

Die woordjie vir rus wat hier gebruik word, is dieselfde woord wat vir Sabbat gebruik word.

Jesus sê in Markus 2:27 dat die Sabbat vir die mens gemaak is. Dis ‘n geskenk aan jou en my. Hoedanig waardeer ons hierdie geskenk? Heilig ons hierdie dag soos ons behoort? Neem ons genoeg tyd om betekenisvolle kontak met die Here te maak?

Luister na die raad in Jesaja 58:13,14:

As jy jou voet terughou van die sabbat om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die Here het dit gespreek.

Hebreërs 4:9,10 Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.

Toe die son daardie eerste Vrydagaand ondergaan het, het God van Sy werke gerus. Hy het Sy besige program opsygeskuif en tyd geneem om met die mens te kom verkeer.

En nou kom Hy met ‘n versoek na jou en my. Hy vra of ons nie dieselfde wil doen nie.

Hy wil weet of ons nie ons besigheid opsy wil skuif en ‘n heerlike Sabbat met Hom wil deurbring nie. Die Here wil hê ons moet Hom opnuut in Sy pragtige skeppingswerk ontdek. Maar bo alles wil Hy hê dat ons Hom op ‘n spesiale wyse in die onderhouding van die Sabbat moet kom ontdek.

Hy gee ons ‘n hele 24 uur om weer van voor af te kom ontdek dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan beërwe.

Jesaja 48:18 Ag, as jy maar na gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ‘n rivier en jou geregtighede soos die golwe van die see.

In hierdie eeu van menslike rusteloosheid, nooi die Here ons om Sy heilige Sabbat te kom vier. Hy nooi ons om ons rusteloosheid in Sy goddelike rus te kom verloor.

As u nog nie die seëninge van die Sabbat van Vrydagsonder tot Saterdagsonder geniet het nie, nooi ek u uit om dit saam met miljoene ander Sabbathouers te kom geniet. Moenie toelaat dat enigiets anders jou langer van hierdie seëninge af weghou nie.