DANKBAARHEID – DIE PARFUUM VAN MY HART Lukas 17:11-19

Hoe word ‘n mens gelukkig? En as ek ‘n mate van geluk geniet, hoe kan ek nog gelukkiger word? Meer en meer mense begin aan depressie ly. Is daar ‘n wondermiddel vir hierdie siekte? Daar is so baie moeilike mense in hierdie lewe, is daar ‘n manier waarop ek beter met hulle oor die weg kan kom?

Hoe kan ek nader aan die Here kom? Hoe kan ek maak om gelukkiger in my geestelike lewe te word? Ek het ‘n baie eenvoudige antwoord op al hierdie vrae gekry. Dis so eenvoudig dat u dit miskien nie sal wil koop nie. Maar ek kan u verseker dat as u die raad volg, sal u ‘n wenner wees. Ek het dit sien werk. Die antwoord lê in een woordjie opgesluit – DANKBAARHEID.

JESUS SE VERHAAL

Jesus vertel die verhaal van tien melaatse wat Hy genees het. En in hierdie verhaal vertel Hy vir ons van die genesende salf van ‘n dankbare hart:

Lukas 17:11-13 Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. Net toe Hy ‘n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar bly op ‘n afstand staan en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons.

Kan jy hulle sien? Dis ‘n vreeslike gesig. Party het nie meer hande nie. Ander het net stompies vir voete. Hulle sukkel met kieries. Sommige se neuse en ore is al deur die melaatsheid weggevreet.

Hulle klere is nie meer klere nie, dis net vodde. Hulle bly nie in ‘n mooi groot huis nie, dis sommer so ‘n grot affêre.

Kan jy hierdie tien patetiese wrakke sien? Kan jy nog iets anders in hierdie mense raaksien? Hulle het so ‘n ent nader aan Jesus beweeg en toe op ‘n redelike afstand begin roep:

Vers 13: “Jesus, Here, ontferm U oor ons.”

Hulle het hard geroep, en aanhoudend geroep. Kan jy hoor hoe hulle roep? Party se stemme is kor en lelike asgevolg van die verwoestende melaatsheid. Kan jy daardie geroep in ons dag hoor? “Jesus Here, ontferm U oor ons!”

Wat ‘n toneel! Jesus se oë is op tien melaatse. Ek wonder wat alles deur Jesus se gedagtes geflits het? Ek glo daar was groot hartseer by Hom. Dis nie hoe Hy bedoel het die mens moes lyk nie. Wat ‘n skrille kontras tussen die eerste mens Adam en hierdie tien gedrogte wat op ‘n afstand na Hom staan en roep!

Kom ons lees Lukas 17:14 “Toe Hy hulle sien, sê Hy: Gaan wys julle vir die priesters. Op pad daarheen het hulle gesond geword.

Die tien melaatses hou skielik op om vir genesing te smeek. Hulle luister na Jesus se opdrag. Daar is krag en meegevoel in Sy stem. Hulle glo wat Hy sê en begin dadelik in die rigting van Jerusalem te stap waar die priester hulle rein gaan verklaar.

Ek wens ek kon hulle reaksie sien toe hulle ontdek dat hulle gesond geword het. “Haai, manne” skree een “my vingers is terug” “Kyk daar,” skreeu ‘n ander een, “Josef se ore is terug.”

In my geestesoog sien ek hoe hierdie tien geneesde melaatses jubel en lag van dankbare geluk.

Vers 15 en 16 gooi die soeklig op een van die tien. “Een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ‘n Samaritaan.”

Jesus kyk hoe nege melaatses wegstap sonder om te kom dankie sê. Die volgende twee verse vertel ons iets van die nege geneesdes en iets van Jesus wat baie belangrik is. 17,18 “Toe sê Jesus: Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie?”

VRAAG

Kom ons vra ‘n vraag. Waarom is die Here so goed vir die mens? Ons is so sleg. Waarom is Hy so goed vir ons? Hy het geweet nege mense sou nie kom dankie sê nie? Romeine 2:4 gee vir ons die antwoord: “Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?”

Jesus het aan hierdie melaatses die grootste geskenk van hulle hele lewe gegee om vir hulle te wys hoeveel Hy vir hulle omgee en om hulle nader aan Sy groot hart van liefde te trek. Wat Hy hulle gegee het, was eintlik weinig. Hy wou vir hulle nog baie meer gee.
Hy wou Homself ook nog aan hulle gee. As hulle maar net wou kom dankie sê het.

FILOSOFIE

Ek wonder waarom die nege melaatses nie omgedraai het en vir Jesus gaan dankie sê het nie? Miskien was dit ‘n soort uitkyk wat hulle op die lewe gehad het. Miskien het hulle gedink dat omdat hulle aan die regte kerk behoort, Jesus verskuldig is om hulle te genees. Ons optrede het baie met ons uitkyk op die lewe te doen.

Ek wil net sê dat as ek dink dat my lidmaatskap van die regte kerk my vir die goedheid van die Here kan kwalifiseer, dan sit ek met die verkeerde motief in die regte kerk.Die lewe skuld my niks.

Die wese van die evangelie leer dat ek of my kerk se goeie dade nie vir die goedheid van die Here kan kwalifiseer nie. Die goedheid van die Here is ‘n onverdiende guns. Dit word op my uitgestort tenspyte van myself en al my gebreke.

Nege mense stap oor die verste rand, verder weg van Jesus, en in Sy hart is daar ‘n soort pyn. “Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie?” vers 18. Is dit moontlik dat my ondankbaarheid verdriet in Sy hart kan veroorsaak? My laat wegstap van die Here!! Geen regte nie net voorregte.

MISGELOOP

Wat het hierdie nege ondankbares misgeloop omdat hulle nie omgedraai het en Jesus bedank het nie? En wat het die een dankbare ontvang toe hy Jesus gaan bedank het?

Vers 19 “En vir hom sê Hy: Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Saam met die genesing van die werklike vreeslike melaatsheid, het Jesus aan hierdie een dankbare man ook die genesing van sonde melaatsheid geskenk. Hierdie man het die grootste van alle genesings ontvang.

Die genesing van die siel. Dis waar dankbaarheid hom uitgebring het. Hier is vir my ‘n groot les. Saam met al die goeie dinge wat die Here my skenk, wil Hy my ook Sy reddende genade skenk. Sy gawes wat Hy so mildelik op my uitstort, is lokmiddels na Hom sodat ek die grootste van alle gawes kan ontvang.
Nege mense wat nie kom dankie sê het nie, het die heerlike ondervinding van ‘n persoonlike ontmoeting misgeloop.

VRAAG

Ons trek ‘n lyn vanaf daardie gebeurtenis 2000 jaar gelede, tot hier by ons. En ons vra vir onsself die vraag. Wat maak ons met die goedheid van die Here? Stap ek onverskillig en ondankbaar weg of draai ek elke keer om, om vir Hom dankie te sê?

Is dit moontlik dat ek oor so baie dinge kla dat ek nie meer die goedheid van die Here raaksien nie? Daar is genoeg ellende om die heeldag te kla. Maar daar is baie meer om voor dankbaar te wees. Waarmee is ek besig?

THEO HARRIS

Terwyl ek predikant op Bloemfontein was, het my foon een oggend gelui. Dit was ‘n baie geleerde stem aan die anderkant. Hy wou my kom spreek het. In ons gesprek het dit uitgekom dat hy ‘n kliniese sielkundige was. Ek het aan hom probeer verduidelik dat ek nie seker is of ek die aangewese persoon was om hom te help nie, maar hy het daarop aangedring dat hy my wil kom spreek.

Later daardie oggend het die mooiste man met die lelikste uitdrukking op sy gesig wat ek nog ooit gesien het, die pastorie binnegestap. Dit was die begin van ‘n reeks ontmoetings. Dit het nie lank geneem voordat ek ‘n baie groot leemte by hom ontdek het nie. Die vreugde van dankbaarheid het uit sy lewe verdwyn.

Voor hy weg is, het ek hom sy huiswerk gegee. Hy moes dit vir ‘n week lank beoefen en dan moes hy weer terugkom en rapporteer. Die behandeling wat ek voorgeskryf het, het uit twee woorde bestaan wat hy elke oggend vir sewed ae moes sê wanneer hy wakker word. Kan jy raai wat hy moes sê? “Dankie Here.”

En weet jy wat sê hy vir my? “Ek het absoluut niks om oor dankbaar te wees nie.” Ek sê toe vir hom “Wel, dis nou nie my probleem nie, ek gee jou net jou huiswerk. Al het jy niks om voor dankbaar te wees nie, sê maar net ‘Dankie Here’ wanneer jy wakker word.”

Na hy dit vir vyf dae gedoen het, het hy geknak en ‘n nuwe dankbare mens geword.

ALTA COETZER

Voordat ek vir u van Alta Coetzer vertel, lees ek vir u hierdie heerlike gedagte:
“As ons… ons meer verbly in die seëninge waarvan ons weet die groot genade en liefde van God – sou ons meer geloof en groter BLYDSKAP hê. Die SEëNINGE wat op ‘n waardering van die goedheid en liefde van God volg, kan deur geen tong beskryf en deur geen beperkte verstand begryp word nie. Selfs hier op aarde kan ons vreugde hê soos ‘n lewende fontein wat altyd standhou omdat dit gevoed word deur strome wat van die troon van God vloei.” HH 253. Ps 90:14

Alta het op die rusbank gesit. Sy was bleek en verbitterd. Die dokters het haar opgegee soos ons sê, en sy het net gewag om te sterf. Sy wou nie meer lewe nie, want die lewe het vir haar niks mooi meer ingehou nie. Voor ek daar weg is, het ek haar gevra of sy nie nog een keer wou probeer nie. Sy het my sinies aangekyk en ja gesê.

Haar huiswerk was baie eenvoudig. Sy moes gedurende die volgende week drie dinge neerskryf waaroor sy dankbaar was. Wat ‘n heerlike besoek toe ek die volgende week daar aankom het sy vir my haar boekie gewys. Sy het seëninge ontdek wat sy jare van te vore van vergeet het. Alta het ryker en ryker geword.

Die dankbaarheid wat sy meer en meer begin uitspreek het, het haar nader en nader aan die Here gebring. Ek sal haar stralende gesig die dag toe sy gedoop is, nooit vergeet nie. Alta is onlangs oorlede. Nie as ‘n siniese ondankbare en geestessterwende mens nie, maar as een van die gelukkigste mense wat ons geken het.

Die geluk wat ons ondervind, hou direk verband met die dankbaarheid wat ons uitspreek en beleef.

LAURETTA
Vir weke en weke het die klein mensie wat by ons kom intrek het net gehuil en gehuil en gehuil. Saam met die trane was daar die baie bottels melk wat warm gemaak moes word, die winde wat snags uitgeklop moes word en die dosyne en dosyne doeke wat gereeld omgeruil moes word.

En toe op ‘n dag het iets heerliks gebeur. Sy het vir ons ‘n glimlag van waardering gegee. Dit was nie ‘n gesigstrekking asgevolg van koliek nie. Dit was hemels. My kind het agtergekom dat ons daar was en sy het dit met ‘n dankbare ou glimlaggie gewys.

Kan jy onthou toe dit met jou gebeur het? Wat ‘n belewenis. Daardie ondervinding het my aan ‘n setaat herinner wat asvolg lui:
“Soos ‘n moeder haar baba dophou om ‘n glimlag van erkenning te sien, so wag die Heiland om ons dankbaarheid te ontvang.” OR 84.

In 2 Korintië 9:12 praat Paulus van ‘n “oorvloedige dankbaarheid teenoor God.” Miskien moet ons so ‘n bietjie meer dankie sê.

Paulus sê in Efesiërs 5:4 “Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.”

Filipense 4:5 “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Kom ons begin ons gebede met lofprysing tot God. Dis so pragtig om te lees hoe baie psalms begin. Luister bv. na hierdie een: “Loof die Here want Hy is goed, want Sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” Ps 107:1

VERSOEKINGS

Het jy geweet dat die beste manier om die Satan se versoekings te weerstaan, ‘n bepeinsing van die goedheid van die Here is. Dis onmoontlik om versoek te word terwyl ‘n mens met waardering aan die goedheid van die Here dink.

MOEILIKE MENSE

Een van die fynste wetenskappe, is die wetenskap van die kennis van die mens. Wanneer daar gesonde verhoudings tussen mense bestaan, is dit hemels, maar wanneer verhoudings vertroebel, leef jy in ‘n ewige brandende hel van ongeluk.

Iemand het hierdie gedagte neergeskryf: “Ons ontvang daakliks van die hemel se oorvloedige seëninge. Dit behoort ‘n liefdevolle dankbaarheid teenoor God op te wek. (En dan volg ‘n baie interessante gedagte) Dit sal ons help om meegevoel met ons medemens te hê en om hulle belange, ons belange te maak.” (4T 222) x 2.

Jy kan nie vir iemand kwaad wees as jy vir hom jammer is nie. Daardie jammerte, daardie meegevoel kom wanneer my hart van dankbaarheid teenoor God begin oorloop.

SKRIKKELJAAR

In 1952 het my ouers vanaf Heidelberg Transvaal an Standerton verhuis. In Heidelberg het ons swaar gehad. My pa was sonder werk en ons skakelhuis naby die Blesbokspruit was beslis nie die mooiste huis in Heidelberg nie.

In Standerton het my pa weer ‘n goeie werk gekry en ons huis was baie mooier. Dit was ‘n nuwe hoërskool en nuwe vriende. Iets wonderliks het daardie jaar in standerd nege met my gebeur. Dit was skrikkeljaar en die meisie het die voorreg gehad om vir die seuns te vra om met hulle te “case” soos ons dit genoem het.

En raai wat, ek het daardie skrikkeljaar ‘n prop van ‘n meisie met die naam van Emsie Hoffman ontvang. (‘n Prop is afkorting vir proposal, wat vra vir ‘n case of vriendskap.)

Dit was die heerlikste ondervinding wat hierdie sestien- jarige seun nog ooit getref het. So heerlik, ek waardeer dit vandag nog. Voor ek hierdie briefie gekry het was ek die arm kaalvoet seun van Heidelberg wat nie veel van ‘n selfbeeld gehad het nie. Maar toe ek daardie prop kry, het my selfbeeld met my behoorlike begin weghardloop. My hele lewe het begin verander.

Die vreugde en dankbaarheid wat daardie ou stukkie papier vir my gebring het, sit nog steeds in my hart. Om te dink dat ‘n meisie op my verlief geraak het en vir my gevra het om ‘n vriendskap met haar aan te gaan, was byna te goed om waar te wees.

O, die wonder van daardie skrikkeljaar.

JESUS

Jare later het ek ‘n ander nog heerliker ondervinding gehad. Dit was ‘n ontdekking waarvan die omvang nie beskryf kan word nie. Ek het ontdek dat God die vader my werklik liefhet. Vir jare het ek geglo dat my swakhede sy liefde vir my beperk het. Vir baie jare het ek probeer goed wees om Sy guns te wen.

Maar terwyl ek Jesus se pyn en worsteling in Getsemane en op Golgota bestudeer het, het ek ontdek dat Hy my liefhet met ‘n liefde wat nie op my geestelike prestasies gebaseer is nie, maar op Sy goedheid alleen. ‘n Liefde wat Hom nie deur my deur my swakhede nie laat afsit nie.

Sy liefdesbrief aan my het Hy in Bethlehem/Nasaret
/Getsemane/Golgota kom neersit. Die ou briefie wat ek daardie skrikkeljaar van 1952 gekry het, was op papier geskryf en die ink het dof geword. Maar die liefdesbrief wat die Vader aan my geskryf het, het Hy nie op papier geskryf nie, maar op Sy Seun, Jesus Christus. En hoe meer ek hierdie liefdesbrief van die Vader lees, hoe duideliker raak die boodskap.

Daar is een reëltjie wat sê dat Hy my so lief het dat Hy Jesus gegee het om in my plek te sterf sodat ek volkome vergifnis kan geniet.

Weet jy hoe dankbaar ek is omdat al my sondes vergewe is? In Jesus is ek so skoon asof ek nog nooit gesondig het nie.

Op hierdie brief, Jesus Christus, wat die Vader vir my geskryf het, staan daar nog ‘n pragtige boodskap. Dit sê dat my redding ‘n uitgemaakte saak is. Jesus Christus het vir my ‘n volmaakte lewe kom leef en ek word gered op grond van dit wat Jesus Christus vir my kom doen het.

Ek loof en prys ek Sy heerlike Naam. Ek dank Hom nie net vir die voorreg om Hom hier te kan prys nie, maar vir ‘n ewigheid wat voorlê waarin ek Hom kan gaan loof en prys.

Ek nooi jou om weer opnuut die brief van die Vader aan jou en my te lees, die brief Jesus Christus. Daardie brief kom nie net een keer in ‘n skrikkeljaar nie, daardie brief is ‘n daaglikse brief. Kom ons lees die brief Jesus Christus. Kom ons lees en lees Hom. Kom ons lees Hom totdat ons dankbaarheid so oorvloedig word dat dit op mense om ons sal uits